Twee persone van belang is in hegtenis geneem in verband met die moord op die bekende bokser Zolani Tete, wat Vrydag, 21 Augustus, in NU 17, Mdantsane, doodgeskiet is.
Die verdagtes, onderskeidelik 30 en 22 jaar oud, is Saterdag in KuGompo-stad aangekeer ná ’n vinnige, intelligensiegedrewe operasie waarby verskeie wetstoepassingseenhede betrokke was.
Die twee is tans in aanhouding en word ondervra oor die moord, asook die poging tot moord op die 27-jarige vrou wat tydens die aanval gewond is.
In oprit voorgekeer
Die 38-jarige bokser het omstreeks 18:30 by sy woning aangekom en het gewag dat die hek oopgaan toe twee onbekende gewapende verdagtes, wat klapmusse gedra het, uit ’n voertuig geklim en op hom en sy 27-jarige vroulike passasier losgebrand het.
In ’n poging om die spervuur te ontvlug, het Tete die voertuig in die erf in gery, maar hy het aan sy beserings beswyk.
Hy is op die toneel dood verklaar.
Hernude beroep op publiek
“Weens die sensitiewe aard van die voortgesette ondersoek kan die SAPD tans nie verdere besonderhede bekend maak oor die motief of die omstandighede rondom die inhegtenisnemings nie,” lui ’n polisieverklaring.
“Ondersoekers volg verskeie leidrade op, en verdere inhegtenisnemings word binnekort verwag. Ons waarsku die publiek en die media teen bespiegeling of die verspreiding van inligting wat vals kan wees, aangesien dit die ondersoek en die integriteit van toekomstige hofverrigtinge kan benadeel.”
Die ondersoekspan is geloof vir hul vinnige optrede.
Die polisie het ook sy beroep herhaal op enigeen met geloofwaardige inligting oor die voorval om na vore te kom. Inligting kan vertroulik deurgegee word via Crime Stop by 08600 10111, en alle inligting sal vertroulik hanteer word.
