Formule Een het nou behoorlik die koms van ’n nuwe super-renjaer én kampioen gevier, toe die Italiaanse tiener Kimi Antonelli alle twyfel uit die weg geruim, nog rekords gebreek het en bewys het dat hy die ingesteldheid het om álles te hanteer.
Deur in Monaco te wen, die genadelose straatbaan met sy versperrings langsaan, het Antonelli gewys hy is ’n bestuurder vir alle bane.
1. Antonelli kan ‘hype’ hanteer
Vir sommige kon spanmaat George Russell se bewering dat die wêreldtitel nou syne is om te verloor, net voor ’n wedren waar Antonelli verlede jaar laaste geëindig het, ’n titseltjie onsensitief oorgekom het. Antonelli het egter net geglimlag, die stekie aanvaar en gewen.
Daarna het hy in die hawe gespring en met ’n glimlag weer opgeduik.
Ervare waarnemers het gelag. Die meeste Monaco-wenners spring in die swembad, nie die see nie; nog ’n eerste vir die tiener van Bologna.
Hoe, is hy gevra, hanteer hy die verwagting en druk?
“Dis ’n ongelooflike oomblik om te beleef,” het hy erken. “Maar dit is natuurlik steeds ’n lang seisoen met baie wedrenne wat voorlê.
“Ek wil nie hê die druk moet my vernietig soos verlede jaar nie . . . so ek probeer dit soveel as moontlik geniet sonder om oor enigiets anders te bekommer as om net te bestuur.
“Dit was vandag ’n goeie toets om weer te begin met die rooi vlag – en ek gaan nie lieg nie, ek was ’n bietjie geïrriteerd, want dit is nie maklik om weer die regte ingesteldheid te kry om ten volle oor te begin nie – maar ek het dit wel reggekry.”
Terwyl Antonelli geglimlag het, het Russell gefrons. Hy het die seisoen goed begin, maar het nou al moeilike wedrenne in Miami, Montreal en Monaco beleef.
“Ek is in ’n baie, baie vreemde gemoedstoestand omdat ek al voorheen laagtepunte in my loopbaan gehad het waar ek dalk twee of drie slegte wedrenne gehad het weens my eie prestasie, maar nog nooit so ’n reeks slegte geluk nie.”
Russell bly waarskynlik Antonelli se belangrikste mededinger soos die seisoen ontvou.
2. Hamilton herwin sy mojo
Lewis Hamilton, wat al sewe keer kampioen was, se tweede agtereenvolgende tweede plek, het gewys Ferrari het die potensiaal om voor te veg, maar nie die rou spoed om die silwer pyle te klop nie.
Terwyl plaaslike held Charles Leclerc ’n seldsame Monaco-ramp beleef het met remprobleme hom laat uitsak het, het die 41-jarige Brit bevestig dat hy steeds die kwaliteite het wat hom tot bo gebring het.
“Ek voel ek moet mense weer herinner wie ek is – en nou daag ek elke naweek op om dit te doen.”
3. Strafpunte en jaers wat uitval
Hamilton was een van verskeie bestuurders wat vir spoed tydens ’n kuipstop gestraf is, met die beamptes wat die wedren en uitslag beïnvloed het met ’n reeks strafpunte.
Dit, bo en behalwe die uittrede weens kragprobleme van wêreldkampioen Lando Norris van McLaren en Red Bull se viermalige kampioen Max Verstappen, plus Leclerc se laat uittrede, het ’n onverwagse en vreemde uitslag gelewer.
Dit het ook baie mense gefrustreer en sommige – insluitend Russell en Alpine se Pierre Gasly, wat ’n podium ontneem is nadat hy “op die baan” derde geëindig het – kwaad gemaak.
Dit het egter ook gewys dat in die nuwe hibriede era, betroubaarheid steeds ’n sleutel tot sukses is, terwyl ’n hoë aantal strafpunte die kompetisie verander en vrae oor die uiteindelike egtheid van die uitslag laat ontstaan.
