30ste KKNK spog met talle bekendes op die program

Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se 30ste verjaarsdag word met ’n propvol program vol bekroonde teaterproduksies, kunstenaars en regisseurs gevier.

Vanjaar word die KKNK, geborg deur ABSA, van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April op Oudtshoorn aangebied.

Hier is ’n paar van die vernaamste produksies:

Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert is bekroon met vier Woordtrofees by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025 – beste toneelstuk, beste teksverwerking en/of samestelling (Danie Marais), beste manlike speler (Pretorius) en uitsonderlike tegniese bydrae vir Joubert se regstreekse klankontwerp.

Dana Snyman se Seun met Wilhelm van der Walt en onder regie van Nico Scheepers, is bekroon met vyf pryse by Momentum Aardklop 2025, waaronder beste toneelaanbieding, beste regie en gehoorgunsteling. Dié drama was ook bekroon met die Woordtrofee vir beste eenpersoonsvertoning by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025.

Andrew Buckland se The Ugly Noo Noo het reeds altesaam 17 nasionale en internasionale pryse ontvang, waaronder ’n Scotsman Fringe First en ’n Perrier Pick of the Fringe-benoeming by die Edinburgh Festival Fringe. Buckland is ook op die verhoog in ’n splinternuwe drama, The Fool’s Guide.

Die internasionaal bekroonde Police Cops: The Original met Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe.
Die internasionaal bekroonde Police Cops: The Original met Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe. FOTO: Verskaf.

Police Cops: The Original met Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe was ’n wêreldwye treffer in Londen se Soho-teater en by die Edinburgh Festival Fringe, en het verskeie pryse gewen van Melbourne tot Toronto en van Brighton tot Kaapstad.

Frank Opperman is terug op die verhoog in Reünie, bekroon met die kykNET Fiësta-prys vir beste akteur vir sy spel in dié komediedrama. Chris Vorster se Gebou soos Steffi Graf is in 2025 by die Vrystaat Kunstefees bekroon met die Vryskitter-prys vir beste vertolking en beste stelontwerp. Alfred Adrian se stand-up-vertoning Positive Strokes is bekroon met die Aardklop UitKlop-prys in 2025. Mandri Sutherland, oftewel Vroudrie, was bekroon as beste aktrise en vir grensverskuiwende werk by die Vrystaat Kunstefees in 2023. Sy is by die KKNK te sien in Vrou ens. 1.2.

Alfred Adriaan se Positive Strokes.
Alfred Adriaan se Positive Strokes. FOTO: Verskaf.

Oudtshoorn se eie Karoo Kaarte-span, agter veelbekroonde produksies soos Die Swartmerrie en Droomkraan Kronieke, is terug met ’n splinternuwe drama, Spoel wat lewe kry uit dié KKNK-projek se navorsing.

Die Engelse weergawe van Jakob, ’n gesinsteaterproduksie met Bryan Hiles onder regie van Michael Taylor-Broderick, is bekroon met ’n Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees. Hiles was ook bekroon as beste akteur in ’n solovertoning by die Durban Theatre Awards.

Feesgangers kan ook uitsien na die Zip Zap Circus se eerste optrede by die KKNK met MOYA. Dié geselskap is oor die jare bekroon met verskeie pryse, as uitsonderlike sirkus geselskap en vir hul sosiale impak. Hierdie erkenning sluit pryse van die Wes-Kaapse regering, BASA én die International Circus Awards in.

Kafka’s Ape is ’n internasionaal bekroonde eenmastuk met Tony Bonani Miyambo, onder regie van Phala Ookeditse Phala. Dié stuk is ’n verwerking van Kafka se A Report to an Academy en is bekroon met die NIHSS-prys vir beste publieke optrede (2017), die beste satire by die United Solo Festival in New York (2019) en vir uitstaande optrede by die Praque Fringe (2019).

Tshiamo Moretlwe se Filled, Sbuja Dywili se Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!, Samantha Carlisle se Messy en Christine van Hees se Sade in Hollandse kombuise is elkeen met ’n Ovation-prys van die Nasionale Kunstefees beloon.

Kristen Fichardt en Shannon Hendry se Akrasia, en Alyssa Jacobs se Kenan ennie Klopse is twee van die finaliste van die Universiteit Stellenbosch-dramadepartement se Première Teaterfees, met laasgenoemde wat onder meer as beste stuk aangewys is. Matthew Gray se Destiny Twice Over. And the Fate of a Half-eaten Sandwich en Lisa Kukard se Granaatsap is twee ander stukke wat ook by die fees aangebied is. Matthew Smith se Pas, met Carin Fourie en Bronlyn van Rhyner, is die wenner van die DCAS-dramafees in 2025.

Die musiekprogram sluit bekroondes in met Stephanie Baartman en pianis Janine Neethling op die verhoog in Hoort, wenner van die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025. The Scullery Quintet se Stir-Fried Sonatas was die wenner van die Momentum Aardklop-pryse vir beste musiekgedrewe produksie, asook grensverskuiwende werk. Winand Grundling is welbekend onder KKNK-gehore as orrelis en reeds met drie Kannas bekroon – hy is vanjaar as pianis op die verhoog in A Victor Borge Tribute.

Stephanie Baartman en Janine Neethling in Hoort.
Stephanie Baartman en Janine Neethling in Hoort. FOTO: Verskaf.

Bekroonde kinderteater is ook ingesluit, met Laerskool Durbanville se Potloodsakkie: Agter die zip, wat een van ses laerskoolproduksies was wat deel geneem het aan die ATKV-Tjokkertoneelfinaal by die Baxter-teater in 2025.

Addisioneel tot dié talle bekroonde produksies, is verskeie produksies en kunstenaars ook benoem vir pryse. Hieronder tel Breyten Breytenbach se drama Boklied, benoem vir vyf Woordtrofees by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025, waaronder beste produksie en beste regie. Op die verhoog is De Klerk Oelofse, David Viviers, Obed de Koker, Ntombi Makhutshi, Wian Taljaard, Keagon Cochrane, Hannah Borthwick, Jurgen McEwan en Ben Albertyn, onder regie van Marthinus Basson.

Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go? was ’n topverkoper by die Vrystaat Kunstefees in 2025 en benoem vir vier Momentum Aardklop-pryse, waaronder beste toneelaanbieding. Hannes van Wyk en Desiré Gardner deel die verhoog.

Margit Meyer-Rödenbeck, Deon Lotz en Gary Naidoo is te sien in Rafiek Mammon se Rondomtalie / Marry-go-round, waarvoor Lotz benoem was as beste akteur by Momentum Aardklop in 2025.

Beste van alle tye met Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk was benoem vir die Kanna vir beste komedie én beste Blitsteater-aanbieding by die KKNK in 2025 en is nou op die verhoog as ’n vollengte teaterproduksie.

Doolhof met Minke Marais en Vian Singleton, met teks en regie deur Robert Kruger, is benoem vir vier Aardklop-pryse in 2025 – beste aktrise (Marais), beste regie (Kruger), beste aanbieding toneel en beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks (Kruger).

Luna Paige se musiekteaterproduksie Die reisigers was benoem as beste musiekproduksie by Momentum Aardklop in 2025. Figure of 8 Dance Theatre se Wings of Light: Dance of an Angel was benoem vir die Momentum Aardklop-uitklopprys in 2025, onder regie van Figure of 8 Dance Theatre met musiek deur Mauritz Lotz.

Feesgangers het ’n wonderlike geleentheid om al hierdie bekroonde produksies, kunstenaars en regisseurs in die Klein Karoo te sien. KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.

  • Die volledige program vir die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie