Daar is nou vier verdagtes in aanhouding in verband met die moord op die Oos-Kaapse kampioenbokser Zolani Tete.
Tete (38) is op Donderdag, 21 Augustus, noodlottig geskiet in NU17, Mdantsane. ’n Vroulike passasier van 27 jaar wat saam met hom gereis het, is ook tydens die aanval gewond en word steeds in die hospitaal behandel.
Op Saterdag het die polisie twee persone van belang, onderskeidelik 22 en 30 jaar oud, in KuGompo-stad (voorheen Oos-Kaap) aangekeer.
Die Oos-Kaapse polisie het in ’n verklaring gesê die 22-jarige man is intussen amptelik aangekla van moord en poging tot moord, laasgenoemde aanklag in verband met die beseerde passasier. Hy sal na verwagting Maandag, 24 Augustus, in die landdroshof in Mdantsane verskyn.
Die tweede persoon, ’n 30-jarige man wat terselfdertyd aangekeer is, is uit aanhouding vrygelaat nadat die polisie bevind het dat daar op hierdie stadium onvoldoende gronde bestaan om hom langer aan te hou. Hy bly egter ’n moontlike getuie terwyl die ondersoek voortduur.
Die polisie het op Sondag nog drie verdagtes in hegtenis geneem, twee van hulle 27 jaar oud en een 28 jaar oud. Een verdagte is in Mdantsane aangekeer en die ander twee in Scenery Park. Hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
“Nog inhegtenisnemings word verwag namate die ondersoek ontvou, en die polisie volg steeds verskeie leidrade op,” lui die polisieverklaring.
“Weens die sensitiewe aard van die voortgesette ondersoek kan die SAPD tans nie verdere besonderhede bekend maak nie. Ons waarsku die publiek en die media teen bespiegeling of die verspreiding van ongeverifieerde inligting, aangesien dit die ondersoek en die integriteit van die hofverrigtinge in die gedrang kan bring.”
Die SAPD het die ondersoekspan geloof vir hul deeglike werk.
