6 werknemers van Sol Plaatje-munisipaliteit vas wat glo kabels steel

Van die gesteelde koperkabels wat in Nababeep gevind is.
Van die gesteelde koperkabels wat in Nababeep gevind is. Foto: Verskaf.

Ses werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit is verlede week in Florianville, Kimberley, in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde koperkabels ter waarde van byna R17 000. Drie van dié verdagtes is glo elektrisiëns.

Lede van die polisie was besig met roetinepatrollies op Donderdag, 23 Julie, toe hulle omstreeks 20:10 inligting ontvang het dat elektriese kabels by ’n sekere perseel van omhulsels gestroop word. By die perseel het hulle vyf mans en een vrou, wie se ouderdomme tussen 27 en 53 jaar wissel, gevind waar hulle besig was om die kabels te stroop, sê lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder.

‘Werk van georganiseerde sindikate’

In reaksie hierop sê DA-raadslid George Joseph in ’n verklaring dat die party ’n beroep op die munisipaliteit doen om dringend ’n onafhanklike ondersoek na metaaldiefstal te laat doen. Die ondersoek moet ook moontlike skakels met die onwettige skrootmetaalhandel en enige interne netwerke wat hierdie misdade moontlik maak, oopvlek.

Joseph sê hierdie inhegtenisnemings laat talle vrae ontstaan, en noem ook dat die DA lank reeds van mening is dat kabel- en metaaldiefstal in Kimberley nie die werk van enkele misdadigers is nie. Dit word deur georganiseerde sindikate met die toerusting, netwerke en kopers uitgevoer wat hierdie onwettige handel aan die gang hou.

Ses werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit is verlede week in hegtenis geneem vir kabeldiefstal.
Ses werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit is verlede week in hegtenis geneem vir kabeldiefstal. Foto: Verskaf.

“Verlede maand het ons die toenemende impak van metaaldiefstal op gemeenskappe in Moghul Park, Floors, Homestead, Colville en Gemdene uitgelig. Hierdie misdade laat gemeenskappe sonder noodsaaklike dienste, beskadig belangrike infrastruktuur, kos belastingbetalers miljoene rande en laat inwoners onveilig voel,” sê Joseph.

Verlede week is die kragverspreidingsboks op die hoek van St Pauls- en Barklyweg aan die brand gesteek en die gemeenskap is vir twee dae sonder elektrisiteit gelaat. In dieselfde week was daar ook ’n kragonderbreking in die Floors- en Ashburnham-gebied weens kabelvandalisme, waar die Sol Plaatje-munisipaliteit 120 meter se kabel moes vervang.

“Sulke misdade gebeur feitlik elke naweek,” sê Joseph.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie