Groot sporte soos rugby, krieket en gholf sal groot aandag op Die Papier se sportblaaie kry.
Ons is trots daarop dat die bewese rugbykenner en -kommentator Hennie Koortzen as medewerker lesers sal ingelig hou oor wat alles in ’n volgepakte rugbyprogram afspeel. Hy sal ook help om die jongste gebeure op en van die veld af te ontleed. Soms ook wat ander sporte betref. Verwag ook om die sportskrywer Hannes Nienaber se naam as medewerkers oor ’n verskeidenheid van sportsoorte te sien.
Stehan Schoeman, sportredakteur, gee egter die versekering dat die afskeep van ander groter sportsoorte en die kleiner kodes iets van die verlede is met die koms van Die Papier. Lees gerus ook oor atletiek, padel, sokker, tennis, rolbal, boks, F1-motorsport en fietsry, om net enkeles te noem. Ons gaan op kleiner en minder bekende sporte se deelnemers en ampsdraers aangewese wees om ons op hoogte te hou. Stuur gerus inligting aan Stehan by sport@diepapier.co.za.
Boonop gaan daar in elke uitgawe ’n fotoblad vir skolesportfoto’s wees. Ouers, leerlinge, skole en fotograwe, stuur gerus daardie treffende aksiefoto’s van die sportveld.
Onderskrifte by die sportfoto’s moet die spelers se naam en van bevat, die betrokke skool se naam, waar en wanneer die wedstryd gespeel is, die uitslag van die wedstryd, ouderdomsgroep, asook die fotograaf se naam. Alle fotograwe sal erkenning kry en mag ’n e-posadres of webwerf saam met die foto publiseer. Stuur dit gerus na skole@diepapier.co.za.
