Fokus op boeliegedrag in nuwe ATKV-kinderteaterstuk

Kinderteater is een van die belangrikste maniere waarop die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) deur taal en die kunste relevante maatskaplike kwessies kreatief in die sameleweing aanspreek.

Dit is hier waar individue, veral jongmense, kan groei, leer en hul plek met selfvertroue in die samelewing kan inneem.

Vanjaar is die kwessie een wat toenemend kommer wek binne skole en gemeenskappe: Boeliegedrag. Dié onderwerp het opnuut weer mense die harnas ingejaag weens voorvalle wat onlangs by Milnerton High School en Hoërskool Oos-Moot met video’s aanlyn versprei is.

“Boeliegedrag het ’n ernstige en toenemende probleem geword wat leerders se emosionele
welstand, selfbeeld en leervermoë negatief beïnvloed,” sê Melvin Tobias, ATKV-streeksbestuurder.

“Ons as afdeling het besluit om hierdie epidemie doelbewus en innoverend aan te spreek.”

Melvin beklemtoon dat die tema vir die teaterstuk “B” is vir boelies nie net daarop gemik is om bewustheid te skep nie, maar
ook om gesprekke oop te maak.

“Die produksie bevorder empatie en bied praktiese strategieë om boeliegedrag te herken, te
voorkom en aan te spreek binne skole en gemeenskappe,” sê hy.

Die ATKV beoog om in die nabye toekoms “B” is vir boelies, in samewerking met Sceanrio College, as ’n volhoubare kinderteaterprojek oor die land heen uit te rol.

“(Die samewerking) het ontstaan tydens ons eerste temaprojek, Dinosourusse kan nie lees nie, waartydens Scenario College as een van die amateur-teatergeselskappe vir Gauteng, Mpumalanga en Limpopo opgetree het,” verduidelik Melvin.

Volgens Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, was boeliegedrag al lank ’n gesprekspunt binne takke, veral in skole.

“Die stuk wys dat ‘B’ nie vir boelies hóéf te staan nie, maar vir bont, braaf en buitegewoon.

Dit dra die boodskap oor dat elke kind die vermoë het om ’n verskil te maak en dat jouself
wees die kleurvolste manier is om te leef.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie