Met ’n begroting van R4,2 miljard vir BBP-beskerming is Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, van mening dat dit blyk politici se lewens is belangriker as dié van gewone mense.
By ’n onlangse besoek aan verskeie polisiekantore in die Wes-Kaap het hy gesien hoe verskeie kantore geen rekenaars of selfone het nie. Boonop is daar te min ondersoekbeamptes en net ’n handjievol bruikbare polisievoertuie.
Volgens Winde is daar tans nasionaal 8 500 vakante speurdersposte, waarvan nagenoeg 1 000 in die Wes-Kaap is. Die poste kan weens ’n gebrek aan geld nie gevul word nie.
“Skuldigbevindings in die hof is slegs 5% omdat daar ’n tekort aan speurders is. Elke speurder ontvang tussen 300 tot 400 dossiere. Dis onmoontlik om daardie hoeveelheid lêers te ondersoek met geen toerusting. Hierdie proses sê vir die misdadigers julle kan maar aangaan – julle sal nóóit gevang word nie.”

Winde het pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrededebat in die parlement uitgedaag om die R43 miljoen wat die polisie se Teen Bende-eenheid jaarliks ontvang, met die R4,2 miljard vir BBP-beskerming om te ruil.
Winde het dit aan Ramaphosa duidelik gemaak toe hy persoonlik die Bonnievale, Kraaifontein, Mitchells Plain en Khayelitsha-polisiekantore besoek het.
Die Kraaifontein-polisiekantoor in Kaapstad het sowat 30 ondersoekbeamptes in diens, maar daar is geen bystand-selfoon nie. Daar is slegs een rekenaar wat in die kaptein se kantoor is. As daar enige kommunikasie aan speurders gestuur word, druk die kaptein dit uit en gee dit aan die betrokke speurder.
Die eenheid vir gespesialiseerde kommersiële misdaad by die polisiekantoor het geen toegang tot ’n rekenaar nie, wat beteken hulle kan nie sake oplos nie, sê Winde.

By die Khayelitsha-polisiekantoor het hy maar dieselfde gevind: 73 ondersoekbeamptes, met net toegang tot drie bystandselfone en een rekenaar. Net 18 van die polisiekantoor se 30 voertuie is rybaar.
Die polisiekantoor in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte het onlangs presidensiële fokus ontvang. Dit beteken die polisiekantoor moet op die hoogste vlak van professionaliteit funksioneer. Maar Winde sê hoewel daar ’n bemanning van vier kolonels en agt kapteine moet wees, is daar net een kaptein en drie kolonels. Die kantoor se 95 ondersoekbeamptes het geen toerusting soos rekenaars of selfone nie.
Winde sê hulle verwelkom egter Ramaphosa se besluit om die weermag te ontplooi hoewel dit slegs ’n tydelike oplossing is.
Hy vra dat die president vir hulle meer mag kan gee sodat die metropolisie en die Kaapstadse metroraad se wetstoepassers in samewerking met die weermag kan werk.
“Ons soek enige hulp wat ons kan kry. Jy kán nié aangaan met die skietery nie! Tussen Januarie en Februarie alleenlik is 345 mense doodgeskiet. Ons moet kan saamwerk waar ons die dwelms en vuurwapens van die strate af kan kry, maar ons moet ook inhegtenisnemings hê. Hierdie operasie het intelligensie nodig.”
