Springbok-kaptein Siya Kolisi sê die Bokke móét daarna mik om nóg beter te wees. Selfs ná ’n uitstekende seisoen.
Die Bokke, wat tans nommer een op die wêreldranglys is, het tog verlede jaar dan en wan vasgeval en nie altyd hul beste spel gelewer nie.
Kolisi het Donderdagaand by die SA Rugby-toekennings in Kaapstad gepraat.
By dié toekennings is verskeie spelers vir hul spel op nasionale en internasionale vlak deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie beloon.
Malcolm Marx is as Manspeler van die Jaar vir 2025 aangewys, ’n eer wat hom ook einde verlede jaar deur Wêreldrugby toegedien is.
Bokbreier Rassie Erasmus het twee toekennings, Afrigter van die Jaar en Springbok-nalatenskap, ontvang, Nadine Roos, Aimee Barrett-Theron en Ethan Hooker het onderskeidelik Vrouespeler-, Skeidsregter en Jong Manspeler van die Jaar gewen.
LEES | Kry die volledige lys van wenners op KICK OFF Rugby
Siya is met die Gees van 1995-eerbewys beloon, en het voor die geleentheid benadruk dat die Springbokke nie kan bekostig om agteroor te sit nie.
Dít is veral belangrik wanneer die Springbokke later vanjaar met vierwedstryd-toetsreeks teen Nieu-Seeland kragte meet.
“Verlede seisoen was goed, maar ons is natuurlik nooit tevrede nie,” vertel Kolisi.
“Ons weet die ander spanne kom vir ons, maar ook binne ons eie standaarde wil ons altyd verbeter.”
Die Springbokke was hierdie week bedrywig met ’n belyningskamp van drie dae en Kolisi meen dat dinge goed verloop het.
“Dit is regtig wonderlik wat coach Rassie doen om diepte in die groep te bou, en natuurlik wil ons dit doen terwyl ons wen,” vertel Siya.
- Artikel deur KICK OFF Rugby.
