George Russell gaan 1ste wegspring by Aussie-GP – Max hospitaal toe ná ongeluk

Die Brit George Russell sal in die eerste posisie wegspring.

Span Mercedes-Benz kon nie gelukkiger gewees het met die resultate vir die kwalifisering vir die Australiese F1 Grand Prix nie. Die Brit George Russell sal Sondag tydens die eerste resies van die nuwe seisoen in die eerste plek wegspring, terwyl spanlid Kimi Antonelli hom in die tweede posisie sal bystaan.

F1-fanatici se afwagting op Sondag (05:55, SA tyd) se resies, met die naweek se verrigtinge in oënskou, word veral aangewakker deur vanjaar se tegniese regulasies wat die kaarte goed geskommel het.

Die motors lyk anders, klink anders, en reageer ook anders met renjaers wat openlik hul ongelukkigheid met die motors te kenne gegee het.

Mercedes lyk egter asof hulle vinnig aan die gang gekom het, terwyl Red Bull se naweek reeds begin ontspoor het nog lank voordat die motorenjins koud kon word.

Die herlewing van Mercedes het beslis ietwat vroeër as verwag gekom.

Veral nadat Max Verstappen in Q1, aan die begin van ’n vinnige ronde, beheer verloor het en teen die versperrings beland het.

Die Nederlander sal iets besonders moet doen om punte uit hierdie naweek te munt wat nou letterlik skeefgeloop het.

Max Verstappen sal ’n haas uit ’n hoed uit moet trek om punte by die Aussie-GP te buit ná hy in Q1 verongeluk het.
Max Verstappen sal ’n haas uit ’n hoed uit moet trek om punte by die Aussie-GP te buit ná hy in Q1 verongeluk het. FOTO: F1.

Alle oë sal op Mercedes wees wanneer die resies Sondag afskop: Kan Russell sy huidige wegspringpoisisie in ’n oorwinning omskep, of gaan die nuwe regulasies nog ’n verrassing oplewer?


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie