Met ’n totaal van 72 houe, vier onder baansyfer, het Suid-Afrika se Danielle du Toit met slegs een hou die Standard Bank Ladies Open by Durbanville Golf Club gewen.
Dit is Du Toit se tweede titel van die Sunshine Ladies Tour.
Romy Meekers van Nederland en Olivia Mehaffey van Noord-Ierland het die tweede plek gedeel met drie onder baansyfer.
“Dit is so ’n groot stap vorentoe vir my. Ek is bly om die vordering te sien. Dit was moeilik op die laaste dag, maar my familie en vriende was hier en die skare was ongelooflik,” het Du Toit aan die einde van Saterdag gesê.
“Dit is ’n voorreg om in hierdie posisie te wees. Ek het dit geniet tot aan die einde. As jy my môre weer hierdie kans gee, sal ek dit vat, selfs al moet ek verloor,” het sy bygevoeg.
Du Toit en Mehaffey het na gister se verrigtinge die dag gelykop begin. ’n Spannende finale ronde gevolg aangesien die punteleer telkemale ’n ander naam boaan gehad het. Teen die 17de putjie het Du Toit egter finaal die voortou geneem totdat sy eindelik met die louere weggestap het.
