’n Besluit om alle professionele spanne in die Wes-Kaapse rugbystruktuur onder die Stormers-vaandel te belyn, is nie ewe positief deur alle oorde van die rugbywêreld ontvang nie.
Inteendeel, oud-Bok Schalk Burger sr. het dit sommer as nonsens afgemaak dat SA Rugby unies probeer beheer, as dit “eintlik andersom” moet werk.
Die “Westelike Provinsie” sal voort nie meer in die Curriebeker te sien wees nie, maar eerder die Stormers XXIII, terwyl die Stomers Bolts in die nasionale o.20-kompetisie gaan deelneem.
In ’n eksklusiewe onderhoud met KickOff Rugby het Burger, wat tussen in die 1970’s en ’80’s vir die WP gespeel het, gesê die besluit moet ook die impak op skolerugby oorweeg. Veral hoe skole in die Boland tans spelers na die WP, eerder as hul eie unie, stuur.
“Die klublid vorm die klub. Die klubs vorm die provinsies,” het Burger gesê.
“En nou skielik sit ons met hierdie nuttelose Presidentsrade en goed bo by SA Rugby wat besluit van bo af neem, terwyl rugby eintlik van onder na bo opgebou is.
“Het al die klubs hierdie besluit geneem? Dis my eerste vraag. Nie een wat sê dit is die beste praktyk nie. Waar kry jy ‘beste praktyk’ as dit ’n bo-na-onder-benadering is?
“Die lede is die klubs. Die klubs beheer tegnies die unie, wat Westelike Provinsie is, en die unies beheer SA Rugby.
Hier is nonsens in Suid-Afrika waar SA Rugby die unie probeer beheer. Dit werk eintlik andersom.”
