Wes-Kaap: Byna 50 000 diere reeds teen bek-en-klouseer ingeënt

Boere loop tans gebuk onder die bek-en-klouseersiekte wat hul vee plattrek.

Byna 50 000 diere is reeds in die Wes-Kaap teen bek-en-klouseer (BKS) ingeënt namate die provinsie se inentingsveldtog versnel en owerhede toenemend op brandpuntgebiede, waar gevalle aangemeld is, fokus.

Agri Wes-Kaap en die Rooivleis-produsente-organisasie in die Wes-Kaap het dié terugvoer gegee ná ’n vergadering wat Maandag gehou is. Volgens ’n verklaring deur Agri Wes-Kaap is die afgelope week goeie vordering met die inentingsprogram en die monitering van moontlike gevalle gemaak.

Altesaam 29 private veeartse help tans met die inentingsveldtog in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenydienste. Tot dusver is 47 700 diere reeds ingeënt.

  • Lees die volledige Paarl Post-artikel hier

Die departement het reeds 60 000 entstowwe ontvang, met nog 100 000 entstowwe wat verwag word om die proses verder te ondersteun. Die meeste van die entstowwe word tans in geïdentifiseerde brandpuntgebiede gebruik.

In die George-omgewing is tans ses bevestigde BKS-positiewe plase, met vyf verdagte plase waar toetsuitslae nog uitstaande is. Tot dusver is 114 plase in die gebied deur veeartse besoek, inentings is op 81 plase gedoen en 13 493 diere is ingeënt.

LEES | Positiewe geval van bek-en-klouseer buite Malmesbury bevestig

In die Weskus is een positiewe geval in die Kalbaskraal-omgewing buite Malmesbury aangemeld asook twee verdagte plase binne die 10 km-radius en een plaas wat buite die radius val. ’n Nuwe kwarantyngebied is ingestel en vee op alle betrokke plase is reeds ingeënt – ongeveer 17 000 diere op 14 plase. Nege beheerpunte is rondom die kwarantyngebied ingestel.

Artikel deur Paarl Post


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie