Israel en Amerika het die grootste bomaanval-operasie op Iran gerig sedert die oorlog begin het. Terwyl die bomme op Tehran bly neerdaal het, sê Iran dat Amerika en Israel al meer as 10 000 burgergebiede aangeval en meer as 1 300 burgers doodgemaak het.
’n Residensiële gebou in sentraal Beiroet is deur Israel gebombardeer en daarteenoor beweer Iran dat hulle ’n nuwe vlaag aanvalle op Israeliese en Amerikaanse instansies en bates in die Midde-Ooste afgevuur het.
Volgens Israeliese media het geen van die Iranse missiele wat afgevuur is, hul teikens in dié land getref nie, aangesien dit vroegtydig onderskep is.
“Vandag gaan weer ons mees intensiewe dag van aanvalle binne Iran wees. Die meeste vegvliegtuie, die meeste bomwerpers, die meeste aanvalle,” het Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog, by ’n perskonferensie gesê.
Dit stem ooreen met die burgerjoernalistiek wat aanlyn versprei word en met ooggetuies in Iran wat met The New York Times gesels het.
“Dit lyk asof hulle oral aanval: huise, skole, moskees, hospitale,” het een burger van Tehran verduidelik.
“As hulle Tehran soos hierdie vir nog tien dae aanhou tref, sal niks van Tehran oorbly nie.”
Tans bly die Straat van Hormoes ’n teerpunt wat oliepryse ernstig beïnvloed, aangesien Amerikaanse president, Donald Trump, gewaarsku het dat dit móét oopbly om olietenkers deur te laat. Die Amerikaanse weermag het gesê dat hulle 16 dormante Iranse mynlê-vaartuie vernietig het, omdat dit moontlik olievervoer deur dié seestraat hok kan slaan.
Die belangrikste vraag blyk dus te wees: Is Trump reg en is die oorlog amper verby? Of is sy departement van verdediging reg en het die oorlog nou eers begin?
