Dit was ’n T20-Wêreldbeker wat met die spreekwoordelike soet en suur vir Protea-aanhangers opgedis is.
Die soet was besonders soet: Die Proteas se wonderseges oor Afghanistan, Indië en die Wes-Indies sal lank onthou word. Daarteenoor het die Proteas in die uitkloprondes teen Nieu-Seeland verloor.
Midde-in al die debatte of die Proteas dié Wêreldbeker móés wen of nie, is een ding wel seker: Krieket-manie in Suid-Afrika is groter as ooit.
Daarvan getuig die uiters suksesvolle SA20-toernooi in Desember en Januarie luidkeels.
Geleentheidsondersteuners sal dus verheug wees om te hoor dat Suid-Afrika, saam met Namibië en Zimbabwe, die Krieket-Wêreldbekertoernooi in 2027 aanbied.
LEES | Bloemfontein to be host city for 2027 Cricket World Cup
Verteenwoordigers van Krieket Suid-Afrika (KSA) het Woensdag Bloemfontein besoek omdat dié stad as een van die gasheerstede vir dié toernooi aangewys is.
“Ons hoop is dat hierdie geleentheid weer eens die vermoë van ons stad as ’n mekka van sport sal demonstreer en die gasvryheid van die mense van Mangaung sal uitstal,” het Nthatisi gesê.
Hy sê die Wêreldbeker sal ’n geleentheid bied om mens-tot-mens-verhoudings te bevorder, kulturele diversiteit te versterk en ekonomiese ontwikkeling te stuur deur ’n verskeidenheid sosiale en sake-dienste.
“Dit is daarom baie belangrik dat hierdie geleentheid rondom die krieketliefhebbende mense van Mangaung en al sy inwoners draai, terwyl hulle dan plaaslike en internasionale krieketondersteuners in hul metro sal verwelkom,” het Nthatisi verduidelik.
“Ons sal beslis ons beste doen om alle pogings aan te wend om die aanbieding van hierdie geleentheid ’n groot sukses te maak.”
Intussen maak die Proteas reg vir hul vyf T20-wedstryde teen Nieu-Seeland in dié land. Hulle sal die eerste keer komende Sondag in Tauranga kragte meet.
Die wedstryd begin 08:15, SA tyd.
- Volg al die Sport-nuus van die naweek in Die Papier. Die jongste uitgawe is Vrydag, 13 Maart, op die rakke. Die eerste uitgawe is nou beskikbaar as e-koerant hier.
