Proteas verkrummel in 2de T20-wedstryd teen Kiwi’s

Protea-paaltjiewagter Connor Esterhuizen.
Protea-paaltjiewagter Connor Esterhuizen.

Dit sou altyd ’n goeie terugvegpoging van die Black Caps geverg het om die reuse nederlaag van die eerste T20-wedstryd teen die Proteas te vergeet.

In Bay Oval in Tauranga verlede Sondag kon die Kiwi’s slegs 91 lopies aanteken voordat hulle in die 15de boulbeurt almal terug paviljoene toe gestuur is.

Die Proteas kon dié telling verbysteek deur slegs drie paaltjies te verloor.

Nou is die T20-reeks gelykop ná die Proteas die tweede wedstryd met 68 lopies vanoggend verloor het.

Die Protea-vroue het hul eerste wedstryd teen Nieu-Seelan verloor, maar vanoggend met 18 lopies gewen.
Die Protea-vroue het hul eerste wedstryd teen Nieu-Seelan verloor, maar vanoggend met 18 lopies gewen. Foto: Facebook.

Die Protea-vroue, wat hul eerste wedstryd teen die White Ferns met 80 lopies verloor het, kon in hul tweede wedstryd die skip omdraai deur vanoggend met 18 lopies te wen.

Dit was sommer vinnig duidelik dat die tweede T20-wedstryd van die vyf wat deur die mans in Nieu-Seeland gespeel sal word, baie anders sou wees.

In die eerste wedstryd het Nieu-Seeland reeds vier paaltjies teen die vyfde boulbeurt verloor. Dié keer, by Seddon Park in Kirikiriroa, het dinge van die begin af beter vir die Black Caps gelyk.

Teen die einde van die kragspel het die Kiwi’s al 43 lopies aanteken sonder om enige paaltjies te verloor. Hulle het dié lopies teen net meer as sewe lopies per boulbeurt aangeteken.

Die Kiwi-openingskolwers het 48 lopies geslaan, voordat hul kolfvennootskap beëindig is. Kaptein Keshav Maharaj het slegs met sy derde bal van die wedstryd van Thomas Latham ontslae geraak vir net 11 lopies.

Daarna is mede-draaibouler George Linde se tweede bal van die daaropvolgende boulbeurt deur die splinternuwe kolwer, Tim Robinson, paaltjies toe gehelp. Die telling was nou 55-2.

Conway se 50 lopiemylpaal het die anker geraak waarrondom dié kolfvertoning gebou is. Dit is ’n massiewe verbetering van die enkele lopie wat hy in die eerste wedstryd tot sy span se totaal bygedra het.

In die 11de boulbeurt het Nieu-Seeland reeds hul 91 lopies van daardie wedstryd verbygesteek.

Nick Kelly kon vinnig by Conway se spoed aanpas om 21 lopies van slegs 11 balle aan te teken voordat Wian Mulder die bal deur sy middelpaaltjie gestuur het.

Weereens het dit geblyk of die momentum nie te veel versteur is nie, aangesien kaptein Mitchell Santner 20 lopies van 13 balle geslaan het. Dié keer is dit Ottniel Baartman wat die paaltjies laat dans het.

In Mulder se tweede boulbeurt het Conway die bal met die kant van sy kolf hemel toe gestuur voordat dit deur paaltjiewagter Connor Esterhuizen gevang is.

In die 16de boulbeurt het die telling op 125-5 gestaan. Gerald Coetzee het volgende sy boulwerk vir die Proteas laat geld deur Jimmy Neesham vir agt lopies uit te haal.

Maharaj se laaste boulbeurt is vir 24 lopies gemoker, met Nieu-Seeland wat hul kolfbeurt met 175-6 teen net meer as agt lopies per boulbeurt gesluit het.

Esterhuizen en Mulder, wat die beseerde Jordan Hermann vervang het, het eerste vir die Proteas kolfblad toe gestap.

’n Vangskoot van Robinson met boulwerk van Ben Sears het Esterhuizen paviljoene toe gestuur. Hy kon slegs agt lopies van 12 balle aanteken.

In draaibouler Santner se eerste boulbeurt het Conway vir Mulder uitgevang om sy kolfbeurt vir 16 lopies van 20 balle te beëindig. Die telling was toe 29-2.

Nie Mulder, Esterhuizen, Tony de Zorzi of Rubin Hermann kon die Kiwi-boulers in die kragspel te veel laat sweet nie, aangesien die bal net twee keer vir ’n ses en een keer vir ’n vier geslaan is.

Aan die einde van die kragspel was die Proteas 31-2 en moes hulle nog 145 lopies van 84 balle aanteken om te wen.

In die eerste wedstryd het De Zorzi twee lopies aangeteken, dié keer kon hy slegs een lopie by die Proteas se totaal bydra.

Jason Smith en Hermann kon die Proteas terug op dreef kry deur stelselmatig die telbord net-net besig te hou. 31-3 het naderhand 59-4 geraak teen die tyd wat Hermann op die grens uitgevang is.

Nieu-Seeland kon met 68 lopies die Proteas vanoggend klop.
Nieu-Seeland kon met 68 lopies die Proteas vanoggend klop. Foto: Facebook.

Teen halfpad was die Proteas 65-4 en sou hulle vinniger lopies moes aanteken indien hulle sou wen. Net meer as ses lopies per boulbeurt is net nie goed genoeg nie.

Volgende is Smith deur draaibouler Santner en Sears se vangwerk vir 12 lopies uitgehaal.

Dit was van meet af duidelik dat Linde nie sou toelaat dat die Kiwi’s met die wedstryd weghardloop nie. Sy 16 lopies van vier balle in Cole McConchie se tweede boulbeurt sou daarvan getuig.

Sy venootskap met Dian Forrester is egter kort daarna beëindig toe die laasgenoemde op die grens deur Lachlan Ferguson uitgevang is. Twee balle later is Coetzee op die teenoorgestelde grens deur McConchie uitgevang.

Aan die begin van die 14de boulbeurt het die Proteas se telling van 91-7 maar bitter skraal gelyk. Maharaj is met die tweede bal van dié boulbeurt deur Ferguson vir ’n goue nulletjie uit. Nqobani Mokoena is in die agtereenvolgende bal ook vir nul terug paviljoen toe.

Uiteindelik is Linde se 33 vir 11 balle tevergeefs gewees. Die Proteas kon slegs 107 aanteken en het dus die wedstryd met 68 lopies verloor.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie