Wie kan nou dáái stoute oogknip vergeet . . . Dis 24-24 ná ekstra tyd by Kings Park-stadion in Durban, en tussen die Sharks en Munster móét daar ’n wenner wees: Dis immers ’n kwarteindstryd.
Toe die Hollywoodbets Sharks op 31 Mei verlede jaar teen die Ierse klubspan pale toe moet aanlê om te bepaal wie in die Verenigde Rugbykampioenskappe se halfeindstryd sal speel, kon aanhangers skaars die drama indink wat dié affêre sou afgee.
Bradley Davids en sibbes Jordan en Jaden Hendrikse het al hul skoppe oorgeklits. Maar ná die laasgenoemde boetie se tweede skop, het ’n reeds spanningsvolle oomblik in ’n internetherrie ontaard.
Jaden het grond toe geval met ’n kramp, en terwyl Munster-losskakel Jack Crowley vir hom en die medici moes wag om sy stelskop te neem, kyk Jaden direk vir hom en gee die stoute oogknip.
Het hy werklik ’n kramp gehad? Is dit net ’n bietjie draakstekery? Is dit teen die gees van rugby se gesogde waardes? Dít is alles vrae wat aanlyn gevra is.
LEES | Bulls boosted by Hanekom’s return, shuffle pack for Cardiff clash
Ier Rory Scannell het sy skop gemis, en die Sharks het die daaropvolgende week in die halfeindstryd vasgeval.
Nou, sowat 10 maande later, is dit die eerste keer wat dié twee spanne die stryd gaan aansê.
Toe joernaliste vra of verlede jaar se wedstryd nog in die Sharks-spelers se agterkoppe is, het Hendrikse gesê sy span se fokus val op Saterdag.
“Dit was ’n werklike kramp en ek weet met die media en alles wat daarna gevolg het, veral die week daarna, hoe persoonlik Munster dit opgeneem het,” het Hendrikse verduidelik.
“Ons fokus op die wedstryd en die belangrikste is om op die ou end die regte resultaat te kry. As ons vyf punte kry, skuif ons ’n bietjie hoër op die punteleer en ons weet ons kan nie nog wedstryde mors nie,” voeg hy by.

Munster is tans sesde op die punteleer en het slegs vier uit hul vorige 12 wedstryd hierdie seisoen verloor. Die Sharks is 11de en het slegs vier wedstryde al gewen.
“Ons weet hulle is ’n span wat nooit terugstaan vir fisieke spel nie. Hulle is altyd gereed vir ’n uitdaging,” het Hendrikse gesê.
“Ons het hulle laas in die kwarteindstryd geklop. So vir hulle is dit baie persoonlik om hierheen te kom en te wen. Ons weet hulle het ook ’n goeie rekord om wedstryde te wen,” het hy, sonder ’n knipoog, gesê.
LEES | Stormers get timely lift with star duo back for Dragons clash
VRK-wedstryde hierdie naweek:
Vrydag
19:00 Bulls t. Cardiff
Saterdag
14:45 Lions t. Edinburgh
17:00 Sharks t. Munster
Sondag
15:00 Stormers t. Dragons
