Die legendariese Amerikaanse akteur en gevegskunstenaar Chuck Norris is vandag op die ouderdom van 86 oorlede.
Hoewel die oorsaak van sy afsterwe nog nie bekend is, dui media berigte daarop dat hy in Kauai, Hawaii was waar hy ’n mediese noodgeval ervaar het en in die hospitaal opgeneem is.
Sy familie het sy afsterwe in ’n emosionele verklaring bevestig.
“Dit is met swaar harte dat ons familie die skielike afsterwe van ons geliefde Chuck Norris deel.”
Hulle het bygevoeg dat hulle die omstandighede privaat wil hou, maar beklemtoon dat hy deur familie omring en in vrede was.

Norris, gebore Carlos Ray Norris op 10 Maart 1940, het wêreldwyd bekend geword as ’n kampioen-gevegskunstenaar en later as ’n ikoniese aksieheld.
Hy het internasionale roem verwerf met rolprente soos The Way of the Dragon saam met Bruce Lee, en was ook die ster van die gewilde televisiereeks Walker, Texas Ranger.
Volgens sy familie was hy egter veel meer as net ’n openbare figuur.
“Vir ons was hy ’n toegewyde eggenoot, ’n liefdevolle pa en oupa … en die hart van ons familie.”
Sy familie het hom verder beskryf as iemand wat “sy lewe met geloof, doelgerigtheid en ’n onwrikbare verbintenis tot die mense wat hy liefhet geleef het” en miljoene mense wêreldwyd geïnspireer het.
Die familie het ook hul dank uitgespreek vir die ondersteuning van aanhangers:
“Vir hom was julle nie net aanhangers nie, maar sy vriende,” lui die verklaring.
Norris laat 5 kinders en 13 kleinkinders agter.
