Dit sit nie in elke tweede ou se broek om ’n pampoen van 653 kg te kweek nie. Tog is dit presies wat Wykus Lamprecht van Meyerton reggekry het.
Hierdie bielie van ’n pampoen is verlede naweek by die bekende Goliat van Gat-pampoenfees as wenner aangewys.
Dié fees is sinoniem met Cullinan, ’n klein myndorpie noordoos van Pretoria, en is vanjaar vir die 22ste keer aangebied.
Volgens die beskrywing op die fees se Facebook-blad is dit ’n jaarlikse instelling waar die “grootste, lelikste en mooiste pampoene” om pryse meeding.
Lamprecht se pampoen van 890 kg van 2023 hou tans die rekord vir die grootste pampoen wat nog ooit by dié fees te sien was.
Die prettige fees is vanjaar vir die eerste keer by die Lavender Kontrei Mark in Onderstepoort gehou, en altesaam 4 342 kg se pampoene het vanjaar om pryse meegeding.
En moenie dink dit gaan net oor grootte nie! Daar was ook pryse vir die mooiste pampoen, die lelikste pampoen en die oorspronklikste pampoen.
Lamprecht – wat R15 000 vir sy reusepampoen gewen het – het klaarblyklik nie net groen vingers nie, maar ook baie geduld met alles wat in sy tuin groei.
Hy het wel nie die fees se vorige rekord van 890 kg gebreek nie, maar het bewys hy het beslis ’n slag met pampoene.
Lamprecht het ook ’n skorsie van 492,3 kg, ’n murgpampoen van 23,8 kg, ’n waatlemoen van 16,2 kg en ’n tamatie van 1 kg ingeskryf.

Die organiseerder van die fees, Henri Combrink, sê die Goliat van Gat-kompetisie is by die Great Pumpkin Commonwealth geregistreer.
Dit is ’n amptelike Suid-Afrikaanse inweegpunt vir plaaslike pampoenkwekers wat hul kragte met kwekers van regoor die wêreld wil meet.
Volgens Combrink was vanjaar se fees ’n reuse-sukses.
“Dit is die meeste pampoene wat nog ooit vir die kompetisie ingeskryf is. Alles word aan liefdadigheidsorganisasies in en om Pretoria geskenk.”
Sowat 2 500 mense het die fees bygewoon.
Aktiwiteite soos pitspoeg en ’n pampoenresies het vir baie pret en ’n heerlike atmosfeer gesorg.
Kokke kon ook hul slag met pampoen wys.

Vanjaar was die wenner egter nie ’n pampoengereg nie, maar ’n pampoenbier wat deur Nic Neveling gebrou is.
AJ Taljaard se pampoenpiekel is as naaswenner aangewys, en Mathilda Nel het ’n derde plek behaal met haar pampoentert.
Steyn’s Culinary School in Hatfield, Pretoria, het saam met Willie Strauss, ’n bekende sjef van Cullinan, as beoordelaars opgetree.
Deur Ilse Salzwedel | Ilse.Salzwedel@diepapier.co.za
