Bewerings by Madlanga lei tot TMPD-adjunkhoof se skorsing

Foto ter illustrasie. Foto: TMPD/Facebook
Foto ter illustrasie. Foto: TMPD/Facebook

Umashi Dhlamini, die adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie (TMPD), is geskors nadat sy naam vandeesweek prominent opgeduik het in plofbare getuienis oor beweerde tendermanipulasie by die Madlanga-kommissie van ondersoek.

Die TMPD het Saterdag in ’n mediaverklaring gesê dat Dhlamini glo self versoek het om geskors te word hangende die uitkoms van die ondersoek.

Die skorsing volg ná getuienis deur sers. Fannie Nkosi, wat glo as tussenganger opgetree het tussen senior rolspelers in die Tshwane-metro.

Nkosi het voor die kommissie getuig dat ’n maatskappy van sy broer, met die hulp van Gareth Mnisi en Dhlamini, ’n tender vir veiligheidsdienste by die metro bekom het.

Volgens adv. Matthew Chaskalson, die kommissie se getuienisaanvoerder, dui die bewyse daarop dat Nkosi, Mnisi en Dhlamini saamgewerk het om die tender te verseker – ondanks bewerings dat die maatskappy nie aan regulasies voldoen het nie. Nkosi het dié aantygings ontken.

Umashi Dhlamini, adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie. Foto: X/Yusuf Abramjee
Umashi Dhlamini, adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie. Foto: X/Yusuf Abramjee

Getuienis dui verder daarop dat Dhlamini glo ’n “tender-kenner” voorgestel het om Nkosi se broer se maatskappy te help om aan vereistes te voldoen.

Chaskalson het aangevoer die tender moes nooit toegestaan gewees het nie.

Die kommissie het ook WhatsApp-boodskappe ontleed wat daarop dui dat Nkosi as skakel tussen Mnisi en Dhlamini opgetree het.

Volgens Chaskalson is hy gebruik om “onreëlmatige kommunikasie” oor betalings aan diensverskaffers te fasiliteer – ’n bewering wat Nkosi ontken.

Die getuienis plaas verdere druk op die Tshwane-metro, waar politieke spanning reeds hoog loop.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie