Die provinsiale bek-en-klouseer gesamentlike operasionele sentrum (JOC) het verlede week vergader om die jongste verwikkelinge rondom die siekte in die Wes-Kaap aan te spreek. Die departement van landbou-veeartsenydienste het tydens die vergadering terugvoer gegee oor die huidige stand van sake, inentingsvordering en operasionele maatreëls wat ingestel is.
Tot op hede is 25 gevalle van BKS aangemeld, waarvan 12 bevestig is. In reaksie hierop is ’n uitgebreide inentingsprogram aan die gang. Tot dusver is 337 plase ingeënt, veral in gebiede waar kommersiële boerdery en informele boerdery aan mekaar grens.
Die provinsie se geïdentifiseerde brandpunt areas sluit die Swartland-munisipaliteit én die Mosselbaai-area, die Kaapse Metropool en Drakenstein in. Tot dusver is 75 203 diere in hierdie gebiede ingeënt.
ʼn Plaas word eers as ingeënt gerapporteer wanneer die hele plaas voltooi is, verduidelik die rooivleis-produsente organisasie (RPO) in hul jongste verklaring.
Die provinsie het voor verlede week 100 000 entstowwe ontvang, wat binne ʼn dag versprei is na die betrokke gebiede. Die Wes-Kaap het ʼn totaal van 170 400 entstowwe ontvang. Daar bestaan egter steeds kommer in die bedryf dat die entstowwe moontlik kan opraak voordat alle suiwelplase ingeënt is.
29 private veeartse help tans die staat se veeartse met die inentingsproses.
