KYK: LIV Gholf-ster Bryson DeChambeau maak 11-jarige se dag

Bryson DeChambeau.
Bryson DeChambeau. Foto: Facebook.

’n Onverwagte ontmoeting by die Arrow Rest-oefenbaan in Hartbeespoort het Mienke Liebenberg (11) se droom bewaarheid toe sy haar held, LIV Golf-ster Bryson DeChambeau, raakgesien het terwyl sy haar gholfswaai geoefen het.

“Mamma! Mamma! Dis Bryson!” het Mienke uitgeroep.

Haar ma, Marlise, het dit eers nie geglo nie. “Mienke sien ’n man na ons toe stap en sê vir my dit is Bryson. Ek sê vir haar dit is onmoontlik,” het Marlise aan Die Papier gesê.

Die Amerikaanse DeChambeau, wat die eerste Suid-Afrikaanse LIV Golf-toernooi by Steyn City verlede naweek gewen het, het na Mienke toe gestap, homself voorgestel en haar hand geskud.

“Sy kyk na hom en sê: Ek weet…,” het Marlise gesê.

Die Amerikaanse gholfspeler het toe ’n paar balle saam met Mienke geslaan en was beïndruk met haar tegniek.

LEES | LIV Golf makes historic African debut with Jo’burg tournament

“Bryson het haar gevra om die bal te slaan en nie senuweeagtig te wees nie. En met die eerste hou slaan sy die bal perfek. Hy was regtig beïndruk met haar,” het Marlise gesê.

“Hy het vir haar gesê toe hy 11 jaar oud was, sou hy enigiets gegee het om die gholfstok só te kon swaai.”

DeChambeau het toe gevra of hy haar drywer kan gebruik. Voordat hy geslaan het, het hy gespot en gesê hy gaan sag slaan sodat hy nie die stok breek nie.

Mienke se reaksie? “Nee, slaan hom hard.” DeChambeau het gelag.

“Ek was baie opgewonde. Ons het saam foto’s geneem en ek het ’n paar balle saam met hom geslaan. Ek het ook sy handtekening op my pet gekry. Dit was ’n baie cool ervaring,” het sy gesê.

DeChambeau het haar ook raad gegee: “Dit gaan nie net oor gholf nie, dit gaan oor die reis.”

Hy het haar aangemoedig om haar kortspel by die huis te verbeter.

Mienke, wat op tweejarige ouderdom begin gholf speel het, het verlede naweek vir die eerste keer die Noordwes-gholfspan by die interprovinsiale toernooi by Seasons Golf Estate in Brits verteenwoordig.

Sy speel gholf by Magaliespark en Pecanwood en oefen elke dag tussen haar skoolwerk deur.

Sy het ook die LIV Golf-toernooi verlede naweek bygewoon waar ander spelers, insluitend Matthew Wolff en Michael La Sasso, haar pet onderteken het.

’n Video van die ontmoeting tussen Mienke en DeChambeau is wyd op sosiale media gedeel.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie