VRK: Phepsi Buthelezi speel ’n barshou, Sharks wen ietwat slordige stryd teen Cardiff

Flank Phepsi Buthelezi.
Flank Phepsi Buthelezi. Foto: Facebook.

Die Hollywoodbets Sharks het Vrydagaand oortuigend voortgebou op hul wondersege van 45-0 teenoor Munster verlede week. Dié keer was dit Cardiff wat druipstert Kingspark in Durban met ’n eindtelling van 21-15 moes verlaat.

Cardiff, wat verlede week 40-7 teen die Vodacom Bulls in Pretoria verloor het, kon net nie ’n vurige Sharks-span se entoesiasme vir dié wen blus nie.

Hoewel die spel ietwat onnet in die eerste helfte was, het die spel baie morsig geraak in die tweede 40 minute. Nie een van die twee spanne kon werklik genoeg momentum opbou om vir meer as ’n halfuur punte aan te teken nie.

Sharks-flank Phepsi Buthelezi het egter ’n barshou gespeel en is met twee drieë en die speler van die wedstryd-toekenning beloon. Vleuel Yaw Penxe het in die 31ste minuut briljant deur die verdediging gesny, en sy eie skoppie gevang om ’n briljante drie te druk.

Vir Cardiff was dit vleuel Mason Grady se twee drieë wat ’n ligpunt gebied het. Boonop kon Callum Sheedy net een van die drieë verdoel. Maar dié punte, in die 16de en 27ste minute onderskeidelik, was die enigste drieë wat Cardiff eindelik kon druk.

In die 73ste minuut kon Cardiff eindelik die dooiepunt verbreek met ’n strafskop deur Ioan Lloyd. Dit was egter die laaste punte van die wedstryd en die eindtelling was dus 21-15.

Die Sharks sal beslis tevrede wees met hul 6de wen vir die seisoen, maar sal frustreerd wees dat hulle nie met ’n bonuspunt kon wegstap nie. Hulle sit nou 10de op die puntelys.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie