Bewerings van tendermanipulering en bedrog: Dít wys Madlanga-kommissie kan werk

Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris.
Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris. Foto: Facebook.

“Die Madlanga-kommissie kan wel ’n uitwerking op misdaad en ’n misdadige invloed op wetstoepassers en die regbank hê.”

Só sê prof. Dirk Kotze, ’n politieke ontleder van Unisa, nadat 12 senior polisielede in die hof verskyn het.

Die saak teen hulle spruit uit getuienis voor die Madlanga-kommissie oor beweerde tendermanipulering en samewerking tussen staatsamptenare en private rolspelers.

Selfs genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, moet in April in die hof verskyn. Dit volg nadat ’n lasbrief van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (Idac) aan hom bekend gemaak is.

Getuienis deur sers. Fannie Nkosi het onder meer onthul dat vertroulike munisipale tenderinligting glo met eksterne partye gedeel is, wat vrae laat ontstaan oor die integriteit van verkrygingsprosesse. Die 12 polisielede, wat ses brigadiers, vier kolonels en ’n generaal-majoor insluit, is verlede Dinsdag in hegtenis geneem en het die daaropvolgende dag in Pretoria in die hof verskyn.

Hulle word verbind met die toeken van ’n R360-miljoen tender aan twee van die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappye. Matlala se vennoot James Murray staan saam met die groep voor die hof op aanklagte van bedrog, korrupsie en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Matlala het saam met hulle in die beskuldigdebank gestaan.

Kan Madlanga ANC sink?

Gaan die kommissie die ysberg wees wat die ANC-skip kan sink? Waarskynlik nie, sê genl. maj. (afgetree) Jeremy Veary, ’n oud-bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid. Veary sê die feit dat inhegtenisnemings uitgevoer word terwyl die kommissie se bedrywighede voortgaan, maak ’n groot verskil.

Die regering het intussen die inhegtenisnemings verwelkom en dit as ’n duidelike boodskap – dat niemand bo die reg verhewe is nie – beskryf.

  • Die Madlanga-kommissie is in reses en hervat op 7 April.

Hulle is vasgetrek:

  • Genl. maj. Busisiwe Temba Jonker
  • Brig. Kirsty Jonker
  • Brig. Petunia Lenono (afgetree)
  • Brig. Ofentse Thlhoale
  • Brig. Rachel Matjeng
  • Brig. Alpheus Ngema
  • Brig. Patrick Nethengwe
  • Kol. Tumisho Maleka
  • Kol. Nonjabulo Mngadi
  • Kol. Anton Paulsen
  • Kol. Johannes Monyai
  • Kapt. Brian Cartwright

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie