Die regering het pas aangekondig dat die petrolprys met R3,06 per liter gaan styg en dat diesel nou R7,37 per liter duurder sal wees. Dít, ten spyte van die petrolheffing wat met R3 verlaag is.
Die groot sondebok is natuurlik oorlog wat nou al vir meer as ’n maand lank in die Midde-Ooste woed.
Israel en Iran het Dinsdag wéér missielaanvalle uitgeruil, met vier Israeliese soldate en twee Verenigde Nasies-vredesmaglede wat in Libanon dood is. Nog twee soldate is gewond.
Israel se weermag (IDF) het gesê sy lugverdediging het Dinsdag op Iranse missiele reageer terwyl noodsirenes regoor die land geloei het.
Volgens AFP is minstens 10 ontploffings oor Jerusalem gehoor. Daarteenoor is ontploffings ook in die Iranse hoofstad, Teheran, gehoor. Die Tasnim-nuusagentskap het berig dat hoewel daar aanvanklik kragonderbrekings in dele van Teheran was, is die krag intussen herstel.
Die IDF het gesê hulle het die Imam Hossein-universiteit in Teheran met missiele getref, wat hulle meen deur Iran se Revolusionêre Wag bestuur word en vir gevorderde wapennavorsing gebruik word.
