SA middelklas nie verskans teen oorlog

’n Kind se fiets staan in die puin van ’n woonstel in Bshamoun in die suidooste van Beiroet, wat deur Israel gebombardeer is. Twee mense is in die voorval dood. Bshamoun is buite Hezbollah se gewone vestings.
’n Kind se fiets staan in die puin van ’n woonstel in Bshamoun in die suidooste van Beiroet, wat deur Israel gebombardeer is. Twee mense is in die voorval dood. Bshamoun is buite Hezbollah se gewone vestings. Foto: Fadel Itani, AFP.

Die verbruikersbom van die Iran-oorlog kan die Suid-Afrikaanse middelklas vanjaar op sy knieë bring, al word ’n skietstaking bereik.

’n Oorlog kan nie soos ’n lig eensklaps met ’n skakelaar afgeskakel word nie, hoewel ’n vonkie ’n kruitvat eensklaps kan laat ontplof. Die gevolge van die nadraai laat slagoffers nog lank ly nadat die stof en rook al gaan lê het.

Die finansiële en ekonomiese slaggate van vandag is laas in die jare sewentig in die wêreld ervaar. Dit beteken dat mense jonger as 65 jaar nog nooit in hul volwasse lewe die ervaring gehad het wat ons tans byvoorbeeld met die skerp prysstygings van olie en die waarskynlike skaarste van brandstof het nie.

As ’n mens nog nie iets in jou lewe ervaar het nie, sal jy, ondanks waarskuwings, kwalik voorbereid wees om sulke ervarings suksesvol die hoof te bied. Dít is wat die gevolge van die huidige skerp stygings in die olieprys en die afgelope weke se 20%-daling in die goudprys vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in die breë en spesifiek die Suid-Afrikaanse werkende middelklas gaan hê.

Die gelyktydige dalende waarde van die rand dra ook by.

Die goudprys het sedert die ontdekking van goud in Suid-Afrika in die 1800’s nog altyd die land se ekonomie en die bevolking se gemoed óf ’n hupstoot, óf ’n klap gegee. Die euforie van die afgelope staatsbegroting is ’n tipiese voorbeeld. ’n Mens sou sweer Suid-Afrika se swak ekonomie het skielik die Grand Prix gewen.

Omtrent ’n week ná die begroting was die partytjie verby; die VSA en Israel het Iran binnegeval en die hele wêreldekonomie is op sy kop gedraai.

Meer egter as euforie is die harde negatiewe werklikheid van ’n skerp stygende olieprys en terselfdertyd ’n skielik dalende rand op die Suid-Afrikaanse ekonomie, maar veral op die belastingbetalende middelklas. Dit beteken nie dis net die middelklas wat die las gaan dra nie, maar as die middelklas vou, dan vou die land se ekonomie.

Suid-Afrika se belastinglas word hoofsaaklik deur die middelklas gedra. Die uitwerking van die hoë olie- en gevolglike hoë petrol-, diesel-, paraffien-, gas-, kunsmis-, elektrisiteits- en die prys van ’n legio ander neweprodukte van olie kring uit na bykans elke daaglikse lewensmiddel wat noodsaaklik is vir ’n mens om in Suid-Afrika te oorleef.

Die Suid-Afrikaanse middelklas is al lank reeds vasgevang in ’n skuldknyptang van huise, motors en kredietkaarte, waarvan slegs die diens van die rentelas minstens 50% uitmaak van die gemiddelde huishouding se maandelikse kontantvloei. Die meeste van hierdie huishoudings sukkel om hul maandelikse lewenskoste met die balans te dek.

Die entoesiasme waarmee die middelklas die afgelope maande hul eie pensioenfondse begin stroop het, sedert die instelling van die tweepotstelsel, is ’n bewys van die knyptang waarin die middelklas hom bevind.

Suid-Afrikaners was in die algemeen nog nooit juis as spaarders bekend nie, en om ’n begroting in ’n middelklashuishouding te vind, is so skaars soos hoendertande.

Die enigste manier hoe Jan en alleman hom- of haarself uit hierdie dilemma gaan kry, is om dadelik ’n begroting op te stel, en ook te beplan waar om besnoeiings aan uitgawes en lewenstyl aan te bring om die prys-tsunami te oorleef. Die regering gaan nie help nie.

  • Kruger is die besturende direkteur van Kruger International Asset & Wealth Management.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie