Kinderfonds: Echo Jeugontwikkeling gee tieners ’n tweede kans

Echo Jeugontwikkeling help en ondersteun tieners deur in hul basiese behoeftes te voorsien.
Echo Jeugontwikkeling help en ondersteun tieners deur in hul basiese behoeftes te voorsien. Foto: Facebook.

Echo Jeugontwikkeling, wat in 2001 gestig is, help en ondersteun tieners deur in hul basiese behoeftes te voorsien. Die organisasie het 14 huise landwyd, met gemeenskappe in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad, asook ’n plaasprojek buite Frankfort.

Carolien van Emmenis, wat die administrasie en geldsake van Echo Jeugontwikkeling behartig, sê al die jongmense by een van die Echo-sentrums het al ’n vorm van verwerping, verwaarlosing of trauma ervaar.

“Ons fokus op hoërskoolleerders, omdat tieners makliker deur die krake van die kindersorgstelsel val en ons bied hulle ’n alternatiewe gemeenskap van sorg, omgee en hoop.”

Die Kinderfonds ondersteun Echo se “Edu-boost”-program, wat op akademiese, vaardigheids- en sosio-emosionele ontwikkeling fokus.

Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds, sê: “Hierdie drie ontwikkelingsfere is van deurslaggewende belang om tieners te help om matriek te behaal en uiteindelik onafhanklik te kan funksioneer.”

Volgens haar het verskeie van die jongmense groot agterstande. “Baie van hulle was lank nie in ’n skool nie en benodig intensiewe ondersteuning om akademies en sosiaal aan te pas.”

Buiten akademiese hulp word ook op lewensvaardighede gefokus, soos werketiek, selfdissipline, tydsbestuur en veerkragtigheid.

“’n Bydrae aan Die Kinderfonds bemagtig nie net jongmense by Echo nie, maar help meer as 6 000 kinders landwyd om vaardighede te ontwikkel waarmee hulle hul plek in die arbeidsmark kan inneem,” sê Van Staden.

Bydraes kan inbetaal word by Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer en naam as verwysing, of gebruik die klik hier vir kaartbetalings.

  • Bydraes is belastingaftrekbaar.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie