Wanneer Gerda Steyn Saterdagoggend by die wegspringstreep in Kaapstad aantree, sal sy nie die gewig van ses opeenvolgende oorwinnings op haar skouers dra nie. Want, verduidelik sy, in haar gedagtes bestaan dit eenvoudig nie.
Suid-Afrika se ultrawedloopkoningin staan op die drumpel van geskiedenis by die Totalsports Two Oceans Ultra Marathon, aangebied deur BYD op 11 April, waar sy ’n sewende agtereenvolgende titel jaag. Maar Steyn kry nie grootkop as sy aan dié historiese prestasie dink nie. Inteendeel, dit is jy haar nederige benadering tot die Moederstad se ikoniese 56 km-toets wat moontlik verklap hoekom sy sedert 2020 stof in haar mededeelnemers se oë geskop het.
“Ek dink nie aan die wedloop as iets wat ek al ses keer gewen het nie, want elke jaar is anders,” erken die baanrekordhouer met kenmerkende nederigheid. “’n Vorige oorwinning waarborg nie ’n toekomstige oorwinning nie, en elke jaar moet ek alles wat ek het in die voorbereiding sit. Ek probeer maniere vind om te verbeter deur op vorige vertonings voort te bou. Ek sal myself nooit toelaat om te gemaklik te raak nie.”
Dit is ’n benadering wat Steyn van ’n belowende atleet, wat in 2016 by haar debuut 14de geëindig het (4:15:44), omskep het in die dominante krag wat die baanrekord van 3:26:54 hou en vrees inboesem by enigiemand wat dapper genoeg is om saam met haar by die wegspring aan te tree.
