Markte haal asem oor Iran-skietstaking

Pres. Donald Trump Foto: AFP
Pres. Donald Trump Foto: AFP

Wêreldleiers én internasionale markte het positief gereageer op die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging laat gisteraand oor ’n skietstaking van twee weke in die oorlog teen Iran.

Suid-Afrikaners kan ook ’n sug van verligting slaak nadat die Rand verstewig het teen die Amerikaanse dollar. Die wisselkoers staan tans op R16,42 per dollar.

Presies hoe dit ons brandstofpryse gaan raak, is onseker, maar oliepryse het met tot 15% gedaal na die aankondiging.

Die prys van Brent-ruolie was vroeër vanoggend $93,38 per vat, maar teen 11h00 vanoggend (SA-tyd) het dit verhandel teen $94.27 per vat. Europese en Asiatiese markte se indekspryse het vanoggend met tussen 3% en 5% gestyg.

VREDE TER ELFDER URE


Trump se aankondiging is gemaak slegs twee ure voor sy spertyd aan Iran om die Straat van Hormoes te heropen, of hul land bloot te stel aan verwoestende aanvalle op kritieke infrastruktuur.

Die skietstilstand-aankondiging was in skerp teenstelling met Trump se dreigende Truth Social-plasings Sondag en vroeg gister. In gister se plasing het hy gedreig dat “ ’n hele beskawing (gisteraand) sal sterf”.

Pakistan se militêre hoof, veldmaarskalk Asim Munir, en die land se eerste minister, Shehbaz Sharif, het die skietstaking help bemiddel. Sharif het in ’n plasing op X gesê hy het Iran en die VSA genooi om Vrydag in Islamabad te vergader. Die VSA het egter nog nie bevestig of en wanneer daar samesprekings met Iran sal wees nie.

Iran se minister van buitelandse sake, Abbas Araqch, het in ’n verklaring bevestig dat sy land teen-aanvalle sou staak en veilige deurgang deur Hormoes sal waarborg, mits aanvalle teen Iran gestaak word.

Dis nog nie duidelik wanneer die spertyd in werking sal tree nie. Volgens Trump sal dit afhang van die heropening van die Straat van Hormoes.

Iran het – ten spyte van die aankondiging – steeds vanoggend voortgegaan met aanvalle op verskeie teikens in Israel en die Golflande.

MEER AS 5 000 STERFTES IN 6 WEKE


Sowel die VSA as Iran beskou die skietstaking-aankondiging as ’n oorwinning vir hul eie regering.

In Iran se mediaverklaring word daar verwys na die VSA se “versoek vir samesprekinge”, en ook na Trump se beweerde aanvaarding van Iran se voorgestelde 10-punt plan as basis vir onderhandelings.

Die Withuis se woordvoerder, Karoline Leavitt, het in reaksie gesê dat “die waarheid is dat pres. Trump en ons magtige weermag Iran laat instem het om die Straat van Hormoes te heropen.”

Die oorlog, tans in sy sesde week, het reeds die lewe van meer as 5 000 mense in byna ’n dosyn lande geëis, insluitende meer as 1 600 Iranse burgerlikes.

Intussen het die kantoor van Israel se premier, Benjamin Netanyahu, vandag aangekondig dat sy land die besluit oor ’n skietstaking teen Iran ondersteun, maar dat die skietstaking nie Libanon insluit nie.


Bronne: Reuters, NovaNews


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie