Beide kante vier oorwinning ná VSA en Iran op die nippertjie op ’n skietstilstand ooreenkom

Die VSA en Iran het op ’n skietstilstand van twee weke ooreengekom.
Die VSA en Iran het op ’n skietstilstand van twee weke ooreengekom. Foto: Facebook.

’n Interessanter én gevaarlike 12 ure kon ’n mens kwalik indink. Op die nippertjie van VSA-pres. Donald Trump se ultimatum waarin hy dreig dat “’n hele samelewing” sou sterf indien die Straat van Hormoes nie oopgemaak word nie, is daar ooreengekom vir ’n skietstilstand van twee weke.

Dít alles is aangekondig slegs ’n uur voor sy ultimatum sou verstryk. Maar nou beweer beide Iran en die VSA dat hulle besig is om die oorlog en die voorwaardes van die skietstilstand te wen.

Trump het aan AFP gesê die ooreenkoms was ’n “totale en volledige oorwinning” vir Amerika. Iran het egter ook die skietstilstand as ’n oorwinning beskou.

“Die vyand het ’n onmiskenbare, historiese en verpletterde nederlaag gely in sy lafhartige, onwettige en kriminele oorlog teen die nasie van Iran,” lui ’n verklaring van die Iran se opperste nasionale veiligheidsraad.

Die Wit Huis het gesê Israel het ook ingestem tot die skietstilstand, maar premier, Benjamin Netanyahu, het uitdruklik gesê dit sluit nie Libanon in nie.

Hier woed aanvalle voort teen die Iran-ondersteunde Hezbollah wat reeds tot meer as 1 500 sterftes gelei het.

Trump het gesê hy het met Pakistan se leiers gepraat wat “gevra het dat ek die vernietigende mag wat vanaand na Iran gestuur word, opskort.”

Hy het later aan AFP gesê hy glo China het gehelp om Teheran tot onderhandeling te bring. “Onderhewig aan die Islamitiese Republiek van Iran wat instem tot die volledige, onmiddellike en veilige opening van die Straat van Hormoes, stem ek in om die bombardering en aanval op Iran vir ’n tydperk van twee weke op te skort,” het Trump Dinsdag op sy Truth Social-platform geskryf.

Die Iranse minister van buitelandse sake, Abbas Araghchi, het veilige deurvaart vir twee weke vir skepe deur die Straat van Hormoes bevestig.

“As aanvalle teen Iran gestop word, sal ons magtige gewapende magte hul verdedigingsoperasies staak,” het Araghchi gesê.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie