Die gort is gaar met die chaos van vanjaar se nasionale atletiekkampioenskapsbyeenkoms. En nou is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) op die oorlogspad.
Dié byeenkoms wat van 8 tot 12 April by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg moes plaasvind, is noodgedwonge geskuif na die nodige opknappingswerk aan die stadion nie betyds gedoen is nie.
Dit volg op die ramp van ’n tekort aan akkommodasie en maaltye wat verlede jaar in Bloemfontein tydens die einste kampioenskap afgespeel het.
Die Pilditch-stadion in Pretoria is wel beskikbaar om die byeenkoms van 29 April tot 2 Mei aan te bied.
Die departement van basiese onderwys en die departement van sport, kuns en kultuur is verantwoordelik vir die reël van die byeenkoms tesame met die Suid-Afrikaanse Skole-atletiek (Sasa).
Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, is behoorlik warm onder die kraag. “Dit is nou tyd vir aanspreeklikheid. Atlete word direk benadeel en ouers ly beduidende finansiële verliese weens onbeholpe amptenare se gebrek om basiese beplanning uit te voer. Koppe moet rol.”
Deacon sê daar het dadels van hul versoeke tot optrede gekom. “Hier is ons nou ’n jaar later en weer is ons skoolatlete uitgelewer aan onbevoegde staatsamptenare.
“Atlete het die hele seisoen hard gewerk om spesifiek vandeesweek hul beste prestasies te behaal. Ouers het aansienlike uitgawes aangegaan en verlof geneem om hul kinders te ondersteun. Provinsies het kostes aangegaan en honderde opvoeders moes reëlings tref om tydens skooldae afwesig te wees om as beamptes diens te doen.”
Volgens Deacon toon die departement van sport, kuns en kultuur telkens dat daar nie voldoende begrip is van die skoolomgewing, -kalender en die dinamika tussen -byeenkomste nie.
Juis om sulke voorvalle in die toekoms te voorkom, versoek Fedsas dat skolesport in die onderwyssektor behoort en dus moet skuif na die departement van basiese onderwys.
“Indien skolesport ’n funksie van die departement van basiese onderwys is, sal dit ook ’n beter belyning met die skoolkalender meebring. Skolesport moet aktief bevorder en befonds word.
“Nie net is dit bepalend vir die loopbane van ons sportlui van die toekoms nie, maar dit speel ook ’n belangrike samebindende rol in skoolgemeenskappe en die breër samelewing.”
