Hyrox: Die fisieke én psigiese uitdaging

Rehan Le Maitre gedurende die Hyrox-kompetisie in Kaapstad.
Rehan Le Maitre gedurende die Hyrox-kompetisie in Kaapstad. Foto: Verskaf.

Meer as 6 000 atlete het op 3 April die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum ingevaar vir ’n Hyrox-kompetisie. Corlia Meyer, woordvoerder van Hyrox Suid-Afrika, sê die kompetisie was ’n belangrike mylpaal.

“Dit is ons eerste driedagkompetisie en ook die tweede laaste geleentheid vir Suid-Afrikaanse atlete om vir die Wêreldkampioenskap in Stockholm, Swede, te kwalifiseer,” sê sy. Die wêreldbyeenkoms word in Junie gehou.

Die enkelmanswenner was Mathieu Cros met ’n tyd van 1:02:26 terwyl Melanie Carsten as die enkelvrouwenner gekroon is met ’n wentyd van 1:06:32.

“Met elke nuwe kompetisie het ons ’n merkbare toename in deelnemers en toeskouers gesien. Ons het ook meer vennote as ooit tevore gehad, wat die groeiende gewildheid van Hyrox in Suid Afrika duidelik bevestig,” sê Meyer en voeg by daar is tans meer as 280 geaffilieerde klubs landwyd.

Die eerste kompetisie in die land is op 21 September 2024 in die Kaap gehou met sowat 1 483 deelnemers en sy is verstom oor die toename in deelnemers in die afgelope twee jaar.

Hyrox se formaat is eenvoudig, maar genadeloos: Agt 1 km-hardlope, elk gevolg deur ’n oefenstasie wat onder meer slee-stoot, slee-trek, roeimasjien, sandsakke en burpees insluit.

“Die atmosfeer was elektries,” vertel Rehan Le Maitre (24), wat al die pad van Alberton af gevlieg het om die kompetisie in ’n solo-afdeling aan te pak. “Ek het drie weke voor die tyd besluit om in die Kaap ’n Hyrox te doen. So drie weke se intense oefening. Dit was baie impulsief maar ek is baie gelukkig met my resultate. Ek het my tyd met 7 minute verbeter van die vorige kompetisie.”

Jayden Oosthuizen (22) van Alberton sê hy het verlede jaar begin om Hyrox te doen omdat dit hom meer uitdaag as om net gewigte op te tel in die gimnasium. “Dit het vir my ’n rede gegee om nie net spiere te bou nie, maar ook werklik fiks te word,” verduidelik hy.

Daar word darem nie van jou verwag om dadelik 1 km kaf te draf nie. “Soos jy sterker en fikser word, verskuif die fokus geleidelik na intervalle en meer intensiewe oefeninge,” sê Oosthuizen.

Jy lê by die meeste klubs eers ’n fikhseidstoets af om te bepaal in watter fiksheidskategorie jy begin oefen, verduidelik Darren Sanders (34), mede-eienaar van ’n CrossFit- en Hyrox-gim in Johannesburg.

Hannes van der Merwe (42), eienaar van BST CrossFit en Hyrox-gimnasium in Roodepoort, sê hy het in 2023 een van die eerste Hyrox-klubs in die land oopgemaak. Europese vriende het hom van dié oefengier vertel. Vandag het BST meer as 70 lede tussen die ouderdom van 21 en 70 jaar.

Van der Merwe en sy vrou, Riane (40), neem self gereeld aan hierdie kompetisies deel omdat hy meen dit help om die klub geloofwaardig te hou. Klubs kan hul eie kompetisies hou en daar is twee keer ’n jaar landswye kompetisies.

Ricardo Lategan (32), ’n ambassadeur vir Hyrox Suid-Afrika, het reeds agt kompetisies voltooi. Hy oefen ses dae per week binne ’n gestruktureerde program wat spesifiek op Hyrox fokus.

“Wat Hyrox uniek maak, is dat dit wêreldwyd gestandaardiseer is,” verduidelik hy. “Die formaat is dieselfde in elke stad. Dit oorbrug die gaping tussen die gimnasium-atleet en die uithouvermoë-atleet. Jy hoef nie ’n elite-hardloper of Olimpiese gewigopteller te wees nie – jy moet veelsydig en gedissiplineerd wees.”

Volgens Lategan speel geestelike uithouvermoë ’n kernrol. “Jou hartklop is hoog, jou bene brand en jy moet steeds gefokus bly. Dit gaan minder oor of jy dit kan doen, en meer oor of jy bereid is om aan te hou wanneer dit moeilik raak.”

Só werk Hyrox

Jy hardloop een kilometer. Dan voltooi jy ’n hoë-intensiteitoefening waarin jy ’n sekere afstand moet voltooi. Dan hardloop jy weer een kilometer voor die volgende oefenstasie.

Jy kan individueel, in pare of as ’n aflosspan deelneem. Kompetisiekoste wissel afhangende van die formaat, maar kos ongeveer R1 200 vir individuele deelname.

Tydens kompetisies word deelnemers outomaties volgens ouderdom ingedeel, met kategorieë wat vanaf o.24 begin en tot in die 80+-ouderdomsgroep strek.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie