Kuns maak saak. Die kunste is ’n noodsaaklike ruimte vir menslikheid en verbinding. Daarom nooi ons almal om hulle stories met ons te kom deel.
Só het Michael Garbett, feesdirekteur, tydens die bekendstelling van vanjaar se Vrystaat Kunstefees-program gesê.
Die program van die Vrystaat Kunstefees is op Woensdag, 8 April, by die Koekela-koffiehuis in Bloemfontein bekendgestel.

Van boeiende boekgesprekke tot interaktiewe wetenskaplike uitstallings vir die jonklomp. En die produksies spog met groot name soos Amanda Strydom, Sandra Prinsloo en Frank Opperman, wat die opwinding net meer laat opswel.
Die fees, wat vanaf 7 tot 11 Julie vanjaar op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word, is reeds al vir jare ’n kragtige voorbeeld van wat moontlik is wanneer akademie en kuns hande vat. Die vennootskap tussen die UV en die fees is sentraal tot die sukses en impak daarvan.

“By die UV glo ons die kunste maak saak. Nie eendag nie, maar nou. Die kunste help ons om beter vrae te vra. Dit help ons om toekomsvisies te verbeel wat meer regverdig, meer menslik en meer verantwoordelik is,” het prof. Vasu Reddy, adjunk-visekanselier van navorsing, innovasie en nagraadse studies van die UV gesê.
“Hierdie program weerspieël samewerking, moed en sorg. Dit weerspieël ’n gedeelde verbintenis tot kreatiwiteit wat verder strek as die kampus en diep in ons gemeenskappe insypel. Ons is trots om deel van hierdie fees te wees en sien met opgewondenheid uit na die toekoms wat hieruit gevorm word.”

Behalwe vir ’n opwindende program, kon Marijda Kamper, programbestuurder, nóg goeie nuus deel: die die Crystal-Donna Roberts-beurs. Dié beurs sal toegeken word aan ’n nagraadse student in enige kuns-dissipline.
Die geliefde aktrise Crystel-Donna Roberts is 6 Maart verlede jaar aan kanker oorlede, en dié beurs wil haar nalatenskap in toekomstige kunstenaars laat voorleef.
Die Vrystaat Kunstefees se 2026-program beloof om ’n viering van kreatiwiteit, samewerking en betekenisvolle betrokkenheid te wees. Die volledige program is beskikbaar by www.vrystaatkunstefees.co.za. Kaartjieverkope is amptelik oop en kaartjies is beskikbaar by Webtickets.co.za.
