Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en Sibusiso Dyonase, koukusleier in Sedibeng, sal mekaar die stryd aansê om die huidige federale leier van die DA, John Steenhuisen, te vervang.
Tydens hul toesprake by die DA se federale kongres in Midrand was dit duidelik dat beide Hill-Lewis en Dyonase sterk voel oor die rol wat die DA in Suid-Afrikaners se lewens móét speel. Veral na die plaaslike verkiesing later vanjaar.
“Ons het bewys. Ons verkoop niet net ’n droom aan Suid-Afrikaners nie, maar bied ’n bewese rekord,” sê Dyonase.
“Die tyd het aangebreek vir selfondersoek as ’n organisasie en om werklik op te staan vir ons waardes en beginsels van vryheid, regverdigheid, en geleenthede vir almal.”
Dyonase glo as leier sal hy rol om te verseker dat Suid-Afrikaners agter die DA verenig. Dít wil hy regkry deur die versterking van interne demokrasie, kapasiteit uitbou, waarde-gedrewe leierskap, samewerking met die professionele en burgerlike samelewing en kontinuïteit in regering.
Hy wil takke en verwante strukture bemagtig met inklusiewe verteenwoordigheid en belei in aktiviste en lede se deurlopende opleiding en ontwikkeling.
“Verenig kan ons ’n Demokratiese Alliansie bou waartoe ons almal kan bydra as die party wat Suid-Afrika kan lei. Saam kan ons die visie van hierdie organisasie verwesenlik,” sê Dyonase.
Op sy beurt was Hill-Lewis dit eens dat die DA se rekord vir homself spreek, maar dat dít alleen nie genoeg is om mense vir sy party te laat stem nie.
“Natuurlik is bekwaamheid uiters belangrik, en dit is ons grootste krag, maar op sigself is dit nie genoeg nie,” sê Hill-Lewis.
“Suid-Afrika smag na ’n party wat kan regeer, wat ons dorpe en stede kan regmaak. Maar dit smag ook na ’n party wat verstaan hoe die lewe van gewone Suid-Afrikaners lyk wat sukkel om kop bo water te hou.”
Suid-Afrika soek ’n party wat luister na sy mense en hulle ernstig opneem.
“Dus moet die DA bekwaamheid met nederigheid kombineer, beginsels met menslikheid en dissipline met warmte.”
Dít is die leierskap wat Hill-Lewis vir die DA wil bied indien hy verkies word.
“Ons regeer beter as enigiemand in Suid-Afrika, maar ons taak is nou groter as ons rekord. Ons rekord spreek vanself.
“Ons taak is om ’n politieke tuiste te word vir miljoene Suid-Afrikaners wat van ons hou en positief teenoor ons voel, maar nog nie heeltemal gereed is om vir ons te stem nie.
“Ons moet die mees hoopvolle, geloofwaardige, ernstige én menslike opsie wees.”
Die vergadering sal Sondag vir die nuwe federale leier stem. Stemmery sal vroegoggend plaasvind en die resultate vir die verskeie leierskapsrolle sal voorlopig tussen 13:00 en 14:00 bekend gemaak word.
