Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, is pas geskors. Pres. Cyril Ramaphosa het ’n mediakonferensie gehou om aan te kondig Masemola sal vervang word deur lt.gen. Puleng Dimpane, tans die afdelingskommissaris vir finansiële hoof van die polisie.
Hy het gesê ná oorweging van die ernstige aard van die aanklagte teen Mosemela het hy en die kommissaris saamgestem dat hy op “voorkomende skorsing” geplaas word. Ramaphosa het ook die belangrikheid van die integriteit van die land se veiligheidsmagte in die stryd teen korrupsie as oorweging beklemtoon.
Masemola het Dinsdag op vier aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële bestuur (PFMA) in die hof verskyn. Die aanklagte hou verband met ’n beweerde onreëlmatige kontrak aan die vermeende tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare24.
Die saak is tot 13 Mei uitgestel sodat Masemola se saak by dié van 16 ander beskuldigdes, wat Matlala insluit, gevoeg kan word.
Masemola word aangekla omdat hy as rekenpligtige beampte glo nie sy werk gedoen het om die tender te stop voordat dit aan Matlala toegeken is nie.
Hy het na afloop van die verskyning aan die media gesê hy is onskuldig. Matlala word beskuldig dat hy voorgegee het Medicare24 voldoen aan die tendervereistes om gesondheidsdienste aan die polisie te verskaf.
Van die ander beskuldigdes – polisiebeamptes – het glo saamgewerk om te verseker dat die R360-miljoen-tender aan Matlala toegeken word.
- Volledige berig en ontleding in die nuwe uitgawe van Die Papier, wat môreoggend op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
