Die nasionale kommissaris van polisie, generaal Fannie Masemola, is voorlopig geskors. Dié besluit is vanmiddag tydens ’n mediakonferensie deur President Cyril Ramaphosa bekendgemaak.
Masemola het vroeër vandeesweek in die hof verskyn op aanklagte dat hy die Wet op Openbare Finansiële bestuur (PFMA) oortree het. Dié aanklagte hou verband met ’n beweerde onreëlmatige tender aan die vermeende tenderpreneur, Vusi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare24.
Ramaphosa het ook aangekondig dat lt.genl. Puleng Dimpane in Masemola se plek sal waarneem as nasionale kommissaris.
Dimpane het in 2007 by die polisie aangesluit en is sedert 2018 die hoof van finansies. Ramaphosa het die versekering gegee dat sy die steun van die topstruktuur geniet, en dat hy vol vertroue is dat haar aanstelling verdere momentum sal gee aan die SAPD se interne stryd teen korrupsie.
Gesamentlike besluit
Volgens die president het hy en Masemola saam besluit dat dit in almal se beste belang sal wees as hy “voorkomend geskors” word terwyl die aanklagte teen hom ondersoek word.
Ramaphosa het benadruk dat dit belangrik is dat wetstoepassers hul werk sonder “vrees of guns” moet doen, en dat die besluit ook geneem is in belang van die moraal in die polisiediens.
Ramaphosa kon – ingevolge artikel 8 van die Polisiewet – ’n raad van ondersoek instel om die bewerings teen Masemola te ondersoek.
Dr. Johan Burger, voorheen van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en deesdae ’n onafhanklike konsultant oor misdaad en polisiëring, sê hy is “teleurgesteld” dat Ramaphosa nie ’n raad van ondersoek gaan instel om Masemola te ondersoek nie.
“Ons ervaring in Suid-Afrika is dat strafsake herhaaldelik uitgestel word, en dat dit baie lank gaan neem voordat daardie saak afgehandel is. Teen daardie tyd het Masemola se kontrak waarskynlik reeds verstryk.”
Ramaphosa het wel gesê dat hy nie noodwendig sal wag vir die afhandeling van die strafsaak voordat hy ’n finale besluit oor Masemola se toekoms neem nie.
DA: ‘SAPD verkeer in krisis’
Die DA het Masemola se skorsing verwelkom, en sê dis ’n “noodsaaklike stap om die integriteit van die amp te beskerm en te verseker dat die SAPD kan voortgaan om te funksioneer” terwyl die proses sy gang gaan.
Die DA het voorheen gevra dat ’n raad van ondersoek Masemola moet ondersoek, en sê in ’n mediaverklaring dat hulle hierdie versoek herhaal.
“Ernstige bewerings (soos hierdie) vereis ’n volledige en behoorlike ondersoek sodat aanspreeklikheid nie vertraag, afgewater of stilweg vermy word nie.”
Volgens die party lê die jongste verwikkelinge die “uiters kommerwekkende toestand van die SAPD se senior bestuur bloot.”
“Suid-Afrikaners staar nou die buitengewone werklikheid in die gesig dat die minister van polisie, die nasionale kommissaris en ’n adjunk-nasionale kommissaris almal geskors of op verpligte verlof geplaas is.”
Dit is volgens die DA “nie ’n teken van ‘n gesonde polisiediens nie”, maar van ’n instelling “in ’n diepgaande krisis op die hoogste vlak”.
Twee adjunk-nasionale kommisarisse van die SAPD – Shadrack Sibiya en Francinah Vuma – is voorheen geskors en word tans deur die Madlanga-kommissie ondersoek vir beweerde korrupsie. Sibiya staar ook strafregtelike vervolging in die gesig.
- Volledige berig en ontleding in die nuwe uitgawe van Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
