Die uitspraak van die konstitusionele hof dat die stemmery in parlement oor die Phala Phala-saak ongeldig en ongrondwetlik was, is ’n waterskeidingsoomblik vir president Cyril Ramaphosa se politieke loopbaan.
Die idee dat Ramaphosa moontlike ernstige oortredings en wangedrag gepleeg het in sy hantering van die Phala Phala-saak, kring vinnig uit tot ’n nasionale krisis vir die ANC, Regering van Nasionale Eenheid en die land.
LEES | Konstitusionele hof: Phala Phala-stemmery was ongeldig en ongrondwetlik
EFF-leier Julius Malema, wat self onlangs in ’n hof in Oos-Londen gesit het toe hy in die uitgerekte vuurwapen-saak tot tronkstraf gevonnis is, het buite die konstitusionele hof die uitspraak verwelkom.
“Julle het hierheen gekom en gesê Phala Phala moet vrygestel word. Vandag is Phala Phala bekend gemaak, en die konstitusionele hof stem met jou saam dat Ramaphosa aan ’n staat van beskuldiging in die parlement onderwerp moet word.”
“Daardie stemmery van die ANC was korrup, dit was ongrondwetlik, dit is ongeldig en daarom tersyde gestel.”
Die EFF en African Transformation Movement het in 2024 weer nuwe asem in dié skandaal ingeblaas toe hulle ’n saak aanhandig gemaak het oor die hantering van ’n onafhanklike verslag wat by die Nasionale Vergadering in Desember 2022 tersyde gestel is.
“Jy kan nie stem om kriminaliteit te beskerm nie. Jy kan nie stem om korrupsie te beskerm nie, want elke stem moet met rasionaliteit gepaard gaan,” het Malema gesê.
Luister Malema se volledige toespraak hier:
