Hof-uitspraak oor staatshantering van bek-en-klouseer bied uiteindelik hoop

Die hooggeregshof het beslis dat die departement van landbou en ander nie ’n geldige verweer vir die staatsbeheer met die hantering van bek-en-klouseer gehad het nie.
Die hooggeregshof het beslis dat die departement van landbou en ander nie ’n geldige verweer vir die staatsbeheer met die hantering van bek-en-klouseer gehad het nie.

Die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof in Pretoria oor die hantering van die voortslepende en staatsbeheerde bek-en-klouseersiekte is ’n oorwinning vir elke vee- en wildboer in Suid-Afrika.

In sy uitspraak wat vandag gelewer is, bevestig regter J. van der Westhuizen dat die minister van landbou, sy departement en senior amptenare nooit ’n geldige verweer gehad het nie, en verantwoordelik is vir die maandelange gesloer met ’n doeltreffende inentingsveldtog wat deur die privaatsektor gelei word, wat honderde boerderye laat struikel of vernietig het.

In ’n verklaring sê die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landboubelangenetwerk, dat die uitspraak ook ’n oorwinning is teen die onregverdige sentralisering van besluitneming, asook mag en uitvoering in die staat, wat lankal nie meer die vermoë het om veesiektes doeltreffend te bestry nie.

Saai sê voorts die uitspraak is ook ’n oorwinning teen elke politieke party, die departement van landbou, landbou-organisasies, akademici en aktiviste wat kaderbeheer wou beskerm en bevorder.

Verteenwoordigers van Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou saam met hul regsverteenwoordiging.
Verteenwoordigers van Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou saam met hul regsverteenwoordiging. Foto: Verskaf.

“Dit is ’n oorwinning teen ongekontroleerde magsmisbruik wat onmeetbare materiële en emosionele skade aan veeboere veroorsaak het,” aldus die verklaring.

Saai beskou dit ook as ’n oorwinning teen organisasies waarin boere vertroue gehad het om hul belange te behartig, maar wat mettertyd meer krities teenoor die hofsaak gestaan het as teenoor die staat self.

Sedert die uitbreek van bek-en-klouseer, veg Suid-Afrika se veesektor steeds teen dié siekte wat dierebewegings ontwrig, handel beïnvloed en onsekerheid vir boere skep. Teen hierdie agtergrond het die hooggeregshof in Pretoria op 11 Mei ’n dringende aansoek aangehoor, met uitspraak wat op Maandag, 25 Mei, gelewer is.

LEES | Vertragings in toedien van BKS-entstof kos boere miljoene, sê VL

Die saak het Sakeliga en landbou-organisasies betrek wat die regering se standpunt oor wie bek-en-klouseer-entstowwe mag toedien, betwis.

“Ná meer as ’n jaar se wegholverspreiding van die staatsbeheerde siekte, bied [die uitspraak] uiteindelik hoop dat die betrokkenheid en inisiatief van die private sektor die kritieke kapasiteit kan verleen om die siekte te stuit.

“Saai is verheug oor die oorwinning in die hof, maar ons harte gaan uit na diegene vir wie dit te laat gekom het, en wat reeds groot skade gely of selfs alles verloor het terwyl hulle vir die staat moes wag om entstof te bekom.”

Dié belangenetwerk hoop dat die minister, sy departement en hul lojale ondersteuners in die landboubedryf die uitspraak sal aanvaar, en nie weer verder teen boere en hul verteenwoordigende organisasies sal werk om die bekampingspoging teen bek-en-klouseer te saboteer nie.

Saai glo die uitspraak kan nou uiteindelik die veebedryf op die voorvoet plaas om die oorlog teen bek-en-klouseer te wen.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie