Die Papier Praat, ’n weeklikse YouTube-nuusprogram, is die jongste toevoeging tot Die Papier-stal. ’n Nuwe program vol nuus sal elke Donderdag om 19:00 uitgereik word.
Die heel eerste uitsending vind vanaand, 4 Junie, om 19:00 op ons YouTube-kanaal plaas. Kyk saam, gesels en teken in sodat jy nie ’n episode misloop nie.
Benewens ’n voorskou van wetenswaardighede uit die volgende dag se uitgawe van Die Papier, kan kykers ook uitsien na besprekings en ontledings van plaaslike en internasionale nuus, en ander aktuele kwessies.

Sportliefhebbers word ook nie afgeskeep nie. ’n Sportsegment met ’n oorsig van die week se belangrikste sportnuus én ’n voorskou van die naweek se sportkalender, sal aansluit by Die Papier se reeds gewilde weeklikse sportblaaie.
Die Papier Praat word aangebied deur Daniëlla van Heerden, ’n voormalige nuusleser van eNuus op kykNET.
Jana Swart, ’n gewilde sport-aanbieder en sport-beïnvloeder, sal jou op die hoogte bring oor allerlei sport. Swart is ’n groot sportliefhebber, met ’n BSc in sportwetenskap en honneurs in hoëprestasie-sport.

Ons sien jou vanaand om 19:00 op YouTube. Jy wil dit nie misloop nie.
