Oom Rugby: Bokke se diepte gaan getoets word

Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ skryf vir Die Papier.
Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ skryf vir Die Papier.

Die gesprekke in rugby word tans oorheers deur die Springbokke se lang en kommerwekkende beseringslys.

Negentien Springbokke is weens beserings buite aksie, en met die VRK-halfeindstryde en (hopelik) eindstryd wat nog voorlê, kan daardie getal nog styg. Hoe dit ook al sy, Rassie begin hierdie groot jaar met ’n moeilike toets en die diepte van sy spelers gaan op die proef gestel word.

Met die Barbarians-wedstryd net meer as twee weke weg en Engeland twee weke daarna, wou ek kyk hoe hierdie beserings die span op mediumtermyn kan beïnvloed. Ek sit ook my keurdershoed op om spelers uit te lig wat moontlik sterk na vore kan tree.

Ntuthuko Mchunu

Ntuthuko Mchunu se naam moet genoem word. Ironies genoeg begin die lys by ’n posisie waar Rassie reeds diepte het. Ox Nche, Gerhard Steenekamp en Jan-Hendrik Wessels is almal fiks en almal internasionale loskopstutte. Maar Ntuthuko het hierdie seisoen uitstekend gespeel vir die Stormers en mag moontlik deel van die gesprek wees.

Stormers-stut Ntuthuko Mchunu.
Stormers-stut Ntuthuko Mchunu. Foto: Facebook.

Cameron Hanekom

Cameron Hanekom is natuurlik ’n agtsteman, maar ek glo hy beskik oor die vaardighede om as ’n soortgelyk plaasvervanger vir Siya op oopkant-flank diens te doen. Soos Siya het hy die spoed en balvaardighede.

Soos altyd wanneer ons oor losvoorspelers praat, moet ons na die balans van die driemanskap as geheel kyk, maar ek dink Cam het die vermoë om ook op nommer 8 uit te blink, sowel as op oopkant-flank, met Siya wat ’n ligte besering verpleeg en Kwagga wat beseer is.

Embrose Papier & Haashim Pead

Die Springbokke het ’n enorme krisis wat skrumskakels betref weens beserings aan Grant Williams, Cobus Reinach, Morné van der Bergh en Jayden Hendrikse. Daar word gepraat van ’n terugkeer vir Faf de Klerk, maar moderne aanvalsrugby plaas ’n groot premium op spoed en dit is waar Haashim Pead en Embrose Papier uitblink.

Om eerlik te wees, albei het reeds genoeg gewys om op Rassie se radar te wees.

Die Bulle se skrumskakel Embrose Papier.
Die Bulle se skrumskakel Embrose Papier.

Handré & Manie

Sacha se besering maak die debat oor losskakel interessant. In Manie Libbok het ons Tony Brown se droom: ’n ware losskakel wat die bal goed versprei en beheer, op ’n manier wat perfek pas by die moderne ­aanvalspatroon. Hy kan dalk die beste uit die Bokagterlyn haal.

Dan het ons vir Handré. ’n Speler met enorme ervaring. Al het die spel meer aanvallend geword, lyk dit by die Bulls of hy gemakliker raak in die rol. Ek sien uit na die “Handrénaissance” in 2026.

Zach Porthen

Hoewel vaskopstut nie ’n probleemposisie vir die Bokke is nie, is dit altyd goed om te weet daar is ’n werklik talentvolle jong speler op pad, en Zach Porthen is inderdaad ’n seldsame juweel. Hy is goed in ’n skrum, maar dit is sy uitstaande fisieke teenwoordigheid, atletiese vermoë, rugby-IK en leierskap wat hom onderskei.

’n Moontlike toekomstige Springbokkaptein, Zach gaan vanjaar baie meer speeltyd kry en behoort in 2026 werklik naam te maak.

Du Preez, Van der Mescht & Norton

Nie net is ons slotvoorraad ernstig uitgedun nie, maar baie van die ou garde raak ouer en nader die skemerjare van hul loopbane. Die werklike probleem is dat ons nie tans ’n 21-jarige monster soos Eben Etzebeth of Lood de Jager sien deurbreek na nasionale vlak nie.

Ek het al aan president Cyril Ramaphosa geskryf oor hierdie kritieke kwessie, maar die waarheid is dat ’n mens eenvoudig moet hoop en wag dat sulke talente weer opdaag.

Intussen, en met die ongelukkige besering van die opkomende Ruan Venter, kan dit dalk vir Jean-Luc du Preez die geleentheid wees om laat in sy loopbaan ’n herlewing te beleef. Hy is fisiek dominant oor die voordeellyn, en sy toekoms lê moontlik op slot. Ek sal graag wil sien dat hy vanjaar sy kans kry.

JJ van der Mescht is nog ’n donker perd. Hy het sy beperkings, en dit moet nog gesien word hoe slim hy werklik die spel lees, maar hy is nog ’n ware kragman wat die finesse van ’n Ruan Nortje of Riley Norton kan balanseer.

Daar is min wat oor die o. 20-Bok-kaptein Norton gesê kan word wat nie reeds gesê is nie, maar ek wonder wel of sy toekoms op slot of aan kleinkant-flank lê. Hoe dit ook al sy, die ware behoefte is aan ’n voordeellyn-monster iewers in die voorspelers, en ek sal met belangstelling volg hoe dit vanjaar uitspeel.

André Esterhuizen

Dit voel vreemd om oor André as ’n opkomende speler te praat, maar ek kry die gevoel dat moderne aanvalsrugby, en die manier waarop die Bokke wil speel, hom perfek pas.

Vir die grootste deel van sy loopbaan was Damian de Allende een van die mees dominante nommer 12’s in wêreldrugby. Met sy voetwerk en krag in kontak het hy verdedigingsisteme stukkend gespeel. Damian het die tafel gedek sodat ander kon eet.

Hoewel Andr’ nie ver daarvan af is nie, bied hy ’n reeks ander vaardighede wat dalk eenvoudig te goed is om te ignoreer. Sy spelverdeling, skopwerk en besluitneming kan ’n verdere dimensie aan die Bok-aanval gee, veral in die afwesigheid van Sacha.

Ek sal glad nie verbaas wees om op ’n stadium hierdie seisoen ’n Handré-André-kombinasie te sien nie.

Bulls-losskakel Handré Pollard.
Bulls-losskakel Handré Pollard. FOTO: Facebook.

Slotgedagtes

Hoe meer ek geskryf het, hoe meer wou ek skryf. ’n Mens kan maklik ’n volledige oudit van elke speler in die Bok-belyningskamp doen!

Maar dit is van die gebiede wat vir my uitgestaan het. Hierdie seisoen sien ek daarna uit om te sien hoe wetsveranderings, beserings en ’n ontwikkelende spelbenadering die Springbokke se keuringsbeleid beïnvloed.

Soos altyd gaan dit ’n wilde rit wees.

  • Oom Rugby is ’n gewilde rugby-ontleder met meer as 40 000 volgelinge aanlyn en skryf nou weekliks vir DiePapier.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie