Karan Beef hervat uitvoere ná ’n uitdagende jaar met BKS

John Steenhuisen in Ekuhuleni vroeër vanjaar.
John Steenhuisen in Ekuhuleni vroeër vanjaar. Foto: Gallo Images/OJ Koloti.

Die Karan Beef-groep het onlangs hul uitvoeronderbrekings ná meer as ’n jaar hok geslaan deur hul vleis na Jordanië te verskeep.

In ’n verklaring bedank hulle John Steenhuisen, minister van landbou, en sy span vir die implementering en dryf van die nasionale inentings program teen bek-en-klouseersiekte wat die landbou sektor gebuk hou.

“Die realiteit is eenvoudig: Sonder doeltreffende inenting sal uitvoermarkte nie Suid-Afrikaanse beesvleis aanvaar nie. Inenting is die grondslag van dieregesondheid, marktoegang en die langtermyn volhoubaarheid van ons bedryf,” lui die verklaring.

Dit is egter nie alles maanskyn en rosegeur nie.

Landbouleiers is verlig oor die hooggeregshof in Pretoria se onlangse uitspraak dat entstowwe teen BKS privaat verkry en deur boere self toegedien mag word, en dat Steenhuisen nie verder mag inmeng met die wettige private invoer van BKS-entstof nie.

Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou het die hof genader om uitsluitsel te kry oor boere se reg om entstof privaat aan te koop en self toe te dien.

John Steenhuisen, die direkteur-generaal van landbou en die direkteur van dieregesondheid, het die aansoek teengestaan.

Hulle is deur die hof gekritiseer oor hoe “heftig” hulle die aansoek teengestaan het en oor die “vertragings in die aanhoor en beregting van die saak” wat die staat geskep het.

Tog sê Karan Beef dat Steenhuisen se “harder werk, toewyding en ondersteuning” hulle in staat gestel het om hul uitvoere te hervat.

Hulle het voor die BKS-uitbreking na meer as 14 lande uitgevoer en hul verhoudings oor jare heen gebou.

“Ons bly hoopvol dat, deur voortdurende bilaterale onderhandelinge tussen die departement van landbou en ons handelsvennote, hierdie markte binnekort weer sal oopmaak en waardevolle geleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente en die breër landbouwaardeketting sal herstel,” sê die verklaring.

Syfers wat op 22 Mei deur AgriSA bekend gemaak is, toon dat ses miljoen dosisse entstof tot dusver vanjaar deur die staat aangekoop is.

Hiervan is 5,3 miljoen dosisse na provinsies versprei, maar slegs 2,9 miljoen diere is intussen ingeënt. Dus staan ’n geraamde 2,4 miljoen dosisse entstof waarskynlik iewers in staatsveeartse se yskaste, terwyl desperate boere hul diere wil inent.

Intussen het 3,5 miljoen entstof uit Argentinië óók in Suid-Afrika aangekom en het Steenhuisen onlangs gesê dat die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte die invoer van 14 miljoen dosisse van die Dollvet-entstof deur Dunevax goedgekeur het.

Die eerste vrag van vier miljoen dosisse word nog hierdie maand verwag.

“Dit sal kritieke ondersteuning bied vir booster-inentings en help om dieregesondheid, boere se lewensonderhoud en voedselveiligheid te beskerm,” het die departement gesê.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie