Met 12 debuutproduksies, kaartjies wat reeds vinnig verkoop en die moontlikheid van meer as 60 000 besoekers, is Momentum Aardklop besig om gereed te maak vir nóg ’n besige vyf dae wanneer die kunstefees op 29 September in Potchefstroom begin.
“Dit voel dalk nog ver tot einde September, maar kaartjies is reeds beskikbaar op SeatMe,” sê Alexa Strachan, uitvoerende hoof van dié kunstefees.
Vanjaar vier Strachan haar tiende jaar aan die stuur. Sy sê een van die grootste uitdagings is om seker te maak die program bied iets vir almal.
“Ons wil hê mense moet hul eie fees kan saamstel. Daar is teater, musiek, gesprekke, boeke, kindervermaak en selfs buitelug-ervarings. Dit is juis nou so dat daar teater is vir die vroue terwyl die mans op wildritte kan gaan,” sê sy.

Volgens Strachan het nagenoeg 60 000 mense verlede jaar die fees bygewoon en die verwagting is dat dié syfer vanjaar oortref kan word. “Ek sien veral uit na Mango Groove se vertoning. Hulle is ikonies en dit gaan beslis een van die hoogtepunte van die fees wees.”
’n Nuwe toevoeging tot die program is Koepel-Klop, ’n begeleide uitstappie in die Vredefortkoepel, waar geskiedenis, letterkunde en die natuur saamvloei voordat die dag met middagete langs die Vaalrivier afgesluit word.
Aardklop gebruik vanjaar uitsluitlik die kaartjieplatform SeatMe.

Agter die skerms is die voorbereiding reeds maande aan die gang.
Volgens Pieter Johannes “Kappie” Kapp, die fees se tegniese bestuurder, begin die beplanning sowat ses maande voor die eerste verhooglig aangaan.
“ ’n Fees van hierdie omvang gebeur nie oornag nie. Ons werk met ongeveer 45 tegnici en vryskutwerkers wat 15 lokale moet voorberei.
“Dit beteken kilometers se kabels, klank- en beligtingstoerusting, stelle en veiligheidsvereistes wat alles betyds in plek moet wees.”
