Innibos: Hier is die jongspan die BBP’s

dummy text

Dit is vir Toyota Innibos uiters belangrik dat die jong­klomp die fees ten volle geniet en daarom kom laerskoolkinders steeds gratis feesterrein toe.

Volgens Andy Lubbe, die feesbestuurder, plaas Innibos ’n baie sterk fokus op kinders en gesinne. “Dit moet ‘n fees wees waar die hele gesin welkom voel en waar daar iets is vir elke ouderdom,” sê Andy.

Van die oomblik wat jong feesgangers deur die hekke stap, wag daar ’n wêreld van opwinding.

Met meer as 300 stalletjies is daar oral iets nuuts om te ontdek, van speelgoed en unieke produkte tot interessante skatte en verrassings om saam huis toe te neem.

Die kosstalletjies bly natuurlik een van die groot gunstelinge soos hamburgers, pizza cones en chipsticks tot bubble tea, bubble pancakes, corn dogs, roomys, oliebolle, malvalekkers, asook die gewilde aarbeie en room.

Hou jou beursie nader, want vir die energieke avonturiers is die gewilde pretpark weer terug en daagliks van 10:00 af oop.

Nog ’n hoogtepunt op die program is Woelwaters, waar gratis vermaak die hele dag lank aangebied word.

Jong feesgangers kan uitsien na optredes deur geliefde karakters en kunstenaars soos Jakkie NOU! saam met Felix en Pokkel, ATKV-Storiebos, Puppetrix se Wilde Wonders, B is vir Boelie, Ronnie die Renoster, Hooper gaan Skool toe en die gewilde towenaar, David Dee. Stories, musiek, laggies, poppekaspret en interaktiewe vermaak sorg dat daar nooit ’n vervelige oomblik is nie.

Tieners word ook nie afgeskeep nie.

Die Alternatiewe konsert op die kykNET-verhoog bied vanjaar ’n vars reeks kunstenaars wat gewild is onder jongmense, soos G-String, Juan Bester, Droomsindroom, Saxby Twins en Coenie Naudé, terwyl die feesterrein vol sosiale media-­waardige oomblikke, lekker ontmoetingsplekke en nuwe ervarings is. As jy klein kindertjies het, kan jy hulle na die kinderoppasserdiens neem by Woelwaters teen slegs R50 en die aandkonsert in vrede geniet.

Daar is jy verseker dat jou kind in veilige sorg van bekwame personeel is, terwyl jy jou longe uitskreeu vir al jou guns­teling-kunstenaars.

Vanaf die feesterrein, kan gesinne ook die splinternuwe familieproduksie, Jakkie NOU: die 3 varkies en die Gen Z wolf, by die Laerskool Laeveld beleef.

Volgens Lubbe is die doel eenvoudig: “Ons wil hê kinders moet by Innibos aankom en voel die fees is ook vir hulle gemaak.

“Dis waarom ons soveel aandag gee aan kindervermaak, gesinsaktiwiteite en bekostigbare toegang. Wanneer die kinders gelukkig is, geniet die hele gesin die fees.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie