Israel gaan nie ophou oorlog voer teen Hezbollah, die Iran-gesteunde groep in Libanon nie, en Iran gaan nie toestem tot ’n vredesooreenkoms met Amerika solank daardie oorlog steeds voortduur nie. Daar is dus maar min hoop vir vrede in die Midde-Ooste – slegte nuus vir landbou in Suid-Afrika wat byna weer moet begin gereedmaak vir die volgende plantseisoen.
Só meen ontleders met wie Die Papier gepraat het.
Die probleem lê by die Straat van Hormoes, ’n strategiese skeepsroete, waardeur kunsmis en olie vervoer word. Weens die oorlog het vervoer hier bykans stilgestaan en vir rekordhoë pryse gesorg.
Pryse het die afgelope twee weke sedert nuus oor die VSA-Iran-ooreenkoms bekendgeword het, begin daal, maar hierdie verligting kan vinnig verdwyn as die ooreenkoms verbrokkel, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

“Dit bekommer ons, want die volgende seisoen vir somergraan en oliesade begin in Oktober, maar produsente koop reeds teen einde Augustus en September hul insette aan.”
Volgens data deur GraanSA, maak brandstof 13% uit van graanboere se produksiekoste, terwyl kunsmis sowat 35% tot 50% uitmaak.
Ondanks die hoër pryse, hou invoerders ook kunsmisinvoere terug “omdat almal verwag dat internasionale pryse nog moet afkom,” sê Corné Louw, landbou-ekonoom van Graan SA.
“Suid-Afrika moet meer as 80% van sy kunsmis invoer en meeste van ons stikstof kom deur die Straat van Hormoes.”
Hoewel sy reken verbruikers nog nie hierdie kostes aan hul sakke sal voel nie omdat boere dit vir nog ’n seisoen gaan absorbeer, sê Louw die boere sal moontlik minder mielies plant en eerder fokus op gewasse met ’n “laer kunsmisbehoefte”.
“Die brandstofprys behoort egter ’n baie vinniger effek op die res van die waardeketting te hê, omdat alle voedsel ’n groot vervoerkomponent het,” sê sy.
