Vrou (43) wat glo R4,6 miljoen van skool verduister bly naweek in aanhouding

Hofsaak.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die 43-jarige Maria Jessica Kuhn wat voorheen as finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu in die Noord-Kaap gewerk het, bly die naweek in aanhouding nadat haar formele borgtogaansoek tot Dinsdag, 7 Julie, uitgestel is.

Sy het Vrydag, 3 Julie, in die Kathu-landdroshof vir ’n moontlike borgtogaansoek verskyn. Dit is egter na Dinsdag uitgestel, en die verdagte bly in aanhouding, sê Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke.

Kuhn is Donderdag by haar huis in Kathu in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, vervalsing en uitgifte. Sy word daarvan beskuldig dat sy skoolfondse ter waarde van R4,6 miljoen verduister het.

Luitenant-kolonel Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, het vroeër gesê die beskuldigde se modus operandi het na bewering die skep van private bankrekeninge ingesluit waarheen skoolfondse herlei is.

Volgens Thebe is finansiële onreëlmatighede in Oktober 2025 tydens ’n oudit in die skool se finansiële rekords geïdentifiseer. Die geld ter sprake sluit gewone skoolgelde in, sowel as skenkerbedrae wat gebruik word om die salarisse van onderwysers in skoolbeheerliggaamposte te betaal.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie