Die Junior Springbokke speel Dinsdag hul laaste Groep A-wedstryd by die o. 20-Wêreldkampioenskap teen Wallis, met die afskop wat om 16:00 sal plaasvind.
Breier Kevin Foote se span het tot dusver albei hul groepwedstryde gewen. Hulle het eers Uruguay met 104-7 afgeransel en daarna die gasheerland Georgië met 33-5 geklop.
Die wedstryd teen Wallis sal bepaal wie die groep wen.
Wallis het hul veldtog begin met ’n oorwinning van 25-24 oor Georgië voordat hulle Uruguay met 47-0 in die tweede ronde van Groep A verslaan het.
Op papier behoort dit ’n formaliteit vir Suid-Afrika te wees, maar Foote sê sy span sal Wallis nie ligtelik opneem nie.
“Wallis gee nooit op nie,” het Foote gewaarsku. “Hulle is ’n geharde span en sal ’n ernstige toets bied.”
Foote het ’n sterk span vir die kragmeting gekies, met die kragtige senter Ethan Adams wat ná ’n besering terugkeer, terwyl losskakel Yaqeen Ahmed terug is ná die skorsing wat hy twee weke gelede opgedoen het toe hy vir SA A gespeel het.
“Ons het, wat ons glo, ’n baie mededingende groep spelers gekies, en die spelers is ten volle gefokus en opgewonde oor wat ’n beslissende wedstryd vir albei spanne gaan wees,” het Foote ná die spanaankondiging gesê.
“Daar is alles om voor te speel.”
Junior Bok-span om Wallis aan te pak:
15 Alzeadon Felix, 14 Cheswill Jooste, 13 Samuel Badenhorst, 12 Ethan Adams, 11 Khuthadzo Rasivhaga, 10 Yaqeen Ahmed, 9 Hendré Schoeman, 8 Vuyo Gwiji, 7 Luke Cannon, 6 Risima Khosa, 5 JD Hattingh, 4 Heinrich Theron, 3 Danie Kruger, 2 Siphosethu Mnebelele (kaptein), 1 Oliver Reid.
Plaasvervangers: 16 Liam van Wyk, 17 Rambo Kubheka, 18 Luan van der Berg, 19 Jaythen Orange, 20 Gert Kemp, 21 Jayden Brits, 22 Markus Müller, 23 Jordan Steenkamp.
