Dwelmbaas Krejcir kla oor hofsake wat sloer, maar dit word helaas weer uitgestel

Radovan Krejcir, die veroordeelde dwelmbaas.
Radovan Krejcir, die veroordeelde dwelmbaas. Foto: Shanell Binedell.

Radovan Krejcir, die veroordeelde dwelmbaas, het Dinsdag die Palm Ridge-landdroshof binnegestap in dieselfde grys sweetpak waarin hy by vorige hofverskynings gesien is. Die Tsjeggiese sakeman en veroordeelde misdadiger het rustig in die beskuldigdebank gaan sit terwyl swaar sekuriteit oor die verrigtinge gewaak het.

Die hofsaal was gevul met polisielede, lede van die taakmag en hofsekuriteit. Daar was minstens 15 beamptes in en om die hofsaal ontplooi terwyl Krejcir se saak aangehoor is.

Die streng sekuriteitsmaatreëls het in skerp kontras gestaan met die relatief administratiewe aard van die verrigtinge, wat hoofsaaklik gehandel het oor ’n verdere uitstel en Krejcir se besware oor die tempo waarteen die saak vorder.

Krejcir is tans besig om ’n aansoek ingevolge artikel 342(A) van die strafproseswet voor te berei, waarin hy aanvoer dat daar onredelike vertragings in sy uitstaande strafsake was.

Die bepaling stel howe in staat om ondersoek in te stel na die oorsake van vertragings en stappe te doen om te verhoed dat beskuldigdes, getuies of die staat benadeel word. Krejcir voer aan dat sy sake vir jare sloer en dat sy grondwetlike regte geskend word.

Benewens die beweerde vertragings beweer hy ook dat hy nie voldoende toegang tot gesondheidsorg en ander geriewe in aanhouding ontvang nie. Die Tsjeggies-gebore veroordeelde misdaadbaas dien tans ’n 35-jaar-tronkstraf in Kgosi Mampuru-gevangenis uit ná sy skuldigbevinding in 2015 op aanklagte wat onder meer poging tot moord, ontvoering en aanranding insluit.

Krejcir kla dat sy hofsake sloer en dat sy menseregte geskenk word.
Krejcir kla dat sy hofsake sloer en dat sy menseregte geskenk word. Foto: Shanell Binedell.

Die verrigtinge is ook gekenmerk deur verwarring oor die media se teenwoordigheid in die hof.

’n Mediaverklaring wat voor die hofverskyning deur Otrebski Attorneys in Johannesburg uitgereik is, het joernaliste uitgenooi om die verrigtinge by die Palm Ridge-landdroshof by te woon. Die verklaring het aangedui dat Krejcir beplan om ’n artikel 342A-aansoek te bring waarin hy beswaar maak teen beweerde onredelike vertragings in sy sake en die beweerde skending van sy regte.

Tydens die verrigtinge het Krejcir se regsverteenwoordiger, Natasja Otrebski, egter aan die hof gesê sy weet nie wie die media na die hof genooi het nie.

’n Beduidende deel van die verrigtinge het gehandel oor die media se teenwoordigheid en die neem van foto’s in die hof.

Toe die hof redes versoek waarom Krejcir die teenwoordigheid van die media ondersteun, het Otrebski aangevoer dat haar kliënt ’n openbare figuur is en geen beswaar teen openbare verslaggewing het nie.

Sy het verder gesê Krejcir wil hê die media moet die verrigtinge bywoon om seker te maak die proses verloop behoorlik. Die landdros het egter beswaar gemaak teen die indruk dat die hof nie sy pligte nakom nie, waarna Otrebski die opmerking teruggetrek het.

Beskuldigde nommer twee het intussen beswaar gemaak teen fotografie in die hof. Die hof het uiteindelik beslis dat foto’s slegs van Krejcir geneem mag word en nie van sy medebeskuldigde nie.

Die verrigtinge is verder onderbreek toe Krejcir aan die hof gesê het hy voel nie gesond genoeg om met sy getuienis voort te gaan nie. Hy het aangevoer dat die kos wat vroeër aan hom voorsien is, nie aan sy dieetvereistes voldoen het nie en dat hy sy medikasie nie sonder ’n behoorlike maaltyd kon neem nie.

Otrebski het die departement van korrektiewe dienste hiervoor blameer en aangevoer dat haar kliënt se versoek op mediese gronde gebaseer was.

Die saak is tot 14 Julie uitgestel.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie