Nou neem Erling Haaland selfs vir Peru oor!

Erling Haaland. Foto: Video-skermgreep
Erling Haaland. Foto: Video-skermgreep

Praat van sokker-betotteld! Peru se nasionale identiteitsregister het bekend gemaak dat honderde pasgebore babas die afgelope paar weke na die Noorse sokkerspeler Erling Haaland vernoem is terwyl die doelskieter sy land deur die 2026-Wêreldbeker-toernooi lei.

Volgens die register dra 468 Peruaanse babas nou Haaland as van terwyl ‘n verdere 91 met die volle naam Erling Haaland geregistreer is. Daarmee saam heet vier babas van die lank ook nou Erling Braut Haaland.

Die Manchester City-doelskieter, wat reeds sewe doele in vier Wêreldbekerwedstryde aangeteken het, het die verbeelding van Peruaanse sokkerondersteuners aangegryp. Haaland (25) het albei doele aangeteken in Noorweë se oorwinning oor Brasilië en sy span gehelp om vir die eerste keer ooit die kwarteindronde van die Wêreldbeker te haal, waar hulle Saterdag teen Engeland te staan kom.

“Verskillende sokkersterre dien as inspirasie vir Peruane wanneer hulle hul kinders met hierdie name registreer,” het Ivan Torres, woordvoerder van die register, aan Panamericana Television gesê.

Die meeste van die Haaland-registrasies het in die weke ná die aanvang van die toernooi plaasgevind, met die getalle wat verder toegeneem het nadat Noorweë ‘n plek in die kwarteindronde verseker het.

“Haaland is ook ‘n Peruaan,” het Torres geskerts.

Nog sokkername vir babas

Dit is nie die eerste keer dat Peruaanse ouers hulle deur sokker laat inspireer wanneer hulle babas benoem nie.

  • 292 mense in Peru is vernoem na die Argentynse ster en dra sy volle naam: Lionel Messi
  • 3 402 heet bloot Messi
  • 1 185 is naamgenote van Portugal se Cristiano Ronaldo
  • 1 241 heet Yamal, te danke is aan Spanje se sterspeler Lamine Yamal
  • 33 809 Peruane is na Brasilië se Neymar vernoem, die gewildste sokkergeïnspireerde naam tot nou toe


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie