Suid-Afrikaners se liefde vir troeteldiere laat hulle al hoe meer daarop bestee. Die land se troeteldiermark word reeds op sowat R8 miljard geraam.
Volgens marknavorsing van Grand View Research, ’n internasionale data- en ekonomiese navorsingsfirma, het die troeteldierversekeringsmark in die breër Midde-Ooste en Afrika reeds sowat $162 miljoen in 2024 bereik en sal na verwagting teen 2033 meer as verdubbel. Troeteldierkos alleen kan reeds ’n groot maandelikse uitgawe vir huishoudings wees, veral waar eienaars premiumhandelsmerke verkies.
Internasionale produkte soos Royal Canin Medium Adult Dog Food verkoop tans teen sowat R1 699 vir groter sakke, terwyl sekere Acana-reekse meer as R2 200 kan kos. Kenners sê al hoe meer eienaars beskou voeding as ’n belegging in voorkoming van siektes.
Suzette Visser, wat al 15 jaar ’n kat-herberg in Pretoria bedryf, sê sy sien jaarliks ’n duidelike toename in aanvraag. Volgens haar het troeteldiereienaars se verwagtinge drasties verander: Waar dit vroeër genoeg was dat iemand net kos en water gee, soek mense nou persoonlike aandag vir hul vierpoot, daaglikse terugvoering en selfs foto-opdaterings van hul diere.
“Troeteldiere is nie meer net diere nie, hulle is deel van die gesin,” sê sy.
Lorraine Kennard, ’n veearts van Pretoria, sê veeartsenykoste het nie noodwendig buitensporig gestyg nie, maar pryse word deur die breër ekonomie en gevorderde mediese tegnologie beïnvloed.
Sy wys daarop dat moderne diergesondheidsorg toenemend MRI-skandeerders, X-straalfoto’s en spesialisbehandelings insluit, wat koste verhoog.
Al hoe meer eienaars neem ook troeteldierversekering uit om hierdie uitgawes te bestuur.
Lizé van Graan, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, verduidelik dat die tendens rondom troeteldiere soos kinders in die huis te behandel, verstaan kan word deur ’n biopsigososiale lens – ’n kombinasie van biologiese, sielkundige en sosiale faktore.
Sy verduidelik dat interaksie met troeteldiere ’n meetbare biologiese uitwerking op die brein het.
“Daar is bevind dat kontak met troeteldiere stresvlakke kan verlaag deur kortisol te verminder, terwyl oksitosien, serotonien en dopamien verhoog word – dieselfde chemikalieë wat verband hou met verbondenheid en welstand in menslike verhoudings,” sê sy.
Vanuit ’n sielkundige perspektief voorsien troeteldiere in belangrike emosionele behoeftes soos aanvaarding, veiligheid en onvoorwaardelike geselskap.
“Mense het ’n basiese behoefte aan verbondenheid, en troeteldiere bied dikwels ’n stabiele, nie-veroordelende verhouding wat emosionele veiligheid skep,” verduidelik sy.
Sy voeg by dat kinders dikwels hul troeteldiere as deel van die gesin beskou en hulle selfs in gesinsbeelde of tekeninge insluit.
Op sosiale vlak speel veranderende leefstyle ook ’n rol.
Meer diverse gesinstrukture – soos enkelouerhuishoudings, alleenwonende individue en nie-tradisionele gesinsvorme – toenemende eensaamheid en ’n groter fokus op geesteswelstand beteken dat troeteldiere dikwels ’n belangrike ondersteuningsrol vervul.
“Die verhouding met ’n troeteldier word dikwels as eenvoudiger en minder konflikbelas ervaar as menslike verhoudings,” sê Van Graan.
Sy waarsku egter dat oormatige gehegtheid problematies kan raak indien dit lei tot die vermyding van menslike verhoudings, of funksionering van jou daaglikse lewe benadeel.
“Tog is troeteldiere nie bedoel om menslike verhoudings of geestesgesondheidsorg te vervang nie, maar eerder om dit aan te vul,” sê sy.
