Die o. 20-kaptein, Siphosethu Mnebelele, wat deel was van sy span se suksesvolle 2025-veldtog, het gesê dit is moeilik om in woorde te beskryf wat nóg ’n wêreldtitel vir hom beteken.
Die Junior Bokke het Saterdag in ’n taai eindstryd in Tbilisi, Georgië, met 16-5 teen Frankryk geseëvier.
Mnebelele het gesê die eenheid binne die span het ’n groot rol gespeel om die oorwinning te verseker in ’n wedstryd waarin Frankryk hulle enduit beproef het.
“Dit voel ongelooflik spesiaal,” het Mnebelele gesê.
“Dit was ’n heeltemal ander span, ander bande en ’n ander reis. Een ding van hierdie span is dat ons aanhou veg omdat ons opreg vir mekaar omgee.
“Ons praat daarvan om liefde op verdediging en aanval te wys, dit te doen vir die ou langs jou en vir die mense tuis in Suid-Afrika. Dit is wat ons deur die hele toernooi gedryf het.”
Mnebelele het ook vertel hoe die groep gefokus gebly het tydens die lang weerverwante vertraging voor die wedstryd.
“Dit was moeilik om te wag, want jy berei jou voor vir ’n sekere afskoptyd en dan moet jy skielik net sit en wag,” het hy gesê.
“Maar hierdie groep pas maklik aan. Ons het seker gemaak ons bly gefokus, hou ons energie hoog en konsentreer op die taak wat voorlê.”
Vir Mnebelele was daardie spangees selfs van die kantlyn af duidelik in die laaste oomblikke van die eindstryd.
“Al wat jy wil hê, is dat die span goed moet vaar en sukses behaal,” het hy gesê.
“Ek was ongelooflik senuweeagtig om te kyk, maar ek was so bly die ouens het die uitslag beklink.”
Die oorwinning het ’n merkwaardige toernooi vir die Junior Bokke afgesluit en Suid-Afrika se derde o. 20- Wêreldkampioenskap-titel verseker ná hul oorwinnings in 2012, 2025 en nou 2026.
